Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wêreld eet ál meer SA vrugte

Een uit elke tien lemoene wat wêreldwyd geëet word, kom nou van Suid-Afrika.

Suid-Afrika voer heelwat lemoene, suurlemoene en lemmetjies uit en ook al hoe meer nartjies.

Suid-Afrika se florerende vrugtebedryf het die afgelope tien jaar ’n al hoe groter deel uitgemaak van wêreldwye handel, sê die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) in sy jongste landbou-vooruitskouingsverslag tot 2028.

Veral sitrus, druiwe en kernvrugte het hul markposisie die afgelope dekade verstewig. Sitrus se markaandeel het van 4% in 2001 tot meer as 10% in 2018 gestyg, gevolg deur tafeldruiwe (5% tot 7%) en kernvrugte (3% tot 6%).

Sitrus is Suid-Afrika se grootste en belangrikste vrugte-uitvoerproduk volgens waarde en volume. Volgens die BFAP kan die land teen 2028 25% meer kartonhouers (15 kg) as verlede jaar uitvoer.

Maar om dié groei vol te hou, moet nuwe en gediversifiseerde markte gevind word, waarsku BFAP.

Brittanje en die res van die Europese Unie (EU) is verreweg die belangrikste uitvoermarkte vir plaaslike vrugte, maar die afhanklikheid maak Suid-Afrika kwesbaar omdat albei se bevolkings teen minder as 1,5% per jaar groei. Dit is ook gebiede met geen voedseltekorte nie, lui BFAP se verslag.

Suid-Afrika is ná Spanje en Turkye die wêreld se grootste sitrusuitvoerder. Lemoene maak die grootste deel van die uitvoer uit. Sowat 76% van die sitrus wat Suid-Afrika produseer, word uitgevoer, met 32% daarvan na die EU en 10% na Brittanje.

Wat steenvrugte (soos perskes en pruime) betref, word 26% uitgevoer en van dié uitvoer gaan 31% na Brittanje en 40% na die res van die EU.

Die BFAP sê veral waar produksie toeneem, soos met suurlemoene, lemmetjies en sagte sitrus (nartjies), móét nuwe markte gevind word waar verbruikersvraag en koopkrag na verwagting sal styg.

Een van die Spaanse boere wat voor die Europese Kommissie se hoofkantoor betoog het. Hulle dring aan op veranderinge in die Europese landboubeleid. Foto: Getty

Heelwat van Suid-Afrika se mededingers in die Suidelike Halfrond is ons reeds een stap voor in baie van die winsgewende markte en die land kan nie bekostig om voete te sleep nie, sê die BFAP.

Heelwat nuwe suurlemoenbome sal in die volgende paar jaar begin vrugte dra. In 2009 is 4 449 ha verbou. Teen 2018 het dit tot 14 740 ha toegeneem.

Vir nartjies het die area onder verbouing in dié tyd van 4 960 ha tot 16 285 ha toegeneem. Die produksie van nartjies kan teen 2028 tot meer as 561 000 ton groei en suurlemoene en lemmetjies tot sowat 642 000 ton as nuwe aanplantings begin vrugte dra.

Die afgelope seisoen het Suid-Afrika Argentinië verbygesteek en hy is nou die grootste uitvoerder van suurlemoene en lemmetjies naas Mexiko, Spanje en Turkye.

Amerika, Brittanje, die res van die EU en Rusland is die grootste invoerders van suurlemoene en daarom is van sy mededingers beter geleë om dié markte te bedien, sê die BFAP.

As markte nie gevind word vir die bykomende produkte nie, sal daar ’n ooraanbod van die vrugte wees en pryse sal daal. Omdat vrugteproduksie toeneem, moet Suid-Afrika ’n konstante voorraad vrugte van hoë gehalte lewer aan groeiende markte.

Wat appels betref, is die grootste uitvoer na Brittanje en die res van die EU (31%), Afrika (29%) en die Verre-Ooste en Asië (27%). Die groeiende tendens vir uitvoer na Afrika kan in die volgende tien jaar voortduur, sê die BFAP.

Pruime se suksesstorie sal na verwagting in die volgende paar jaar voortduur. Gemiddeld 74% van die totale pruimproduksie is die afgelope tien jaar uitgevoer en oor die volgende dekade word groei van 14% daarin verwag.

Meer oor:  Sitrus  |  Uitvoer  |  Druiwe  |  Vrugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.