SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Landbou
Werkloosheid grootste én gevaarlikste uitdaging
Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap Foto: MARISKA SPOORMAKER

Werkloosheid – en hoe dit opgelos kan word – is onderskeidelik die gevaarlikste én grootste uitdaging in die land, meen Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap.

Stern het in sy openingsrede Donderdag by die organisasie se jaarkongres in Port Alfred aan afgevaardigdes gesê die situasie skep groot woede en frustrasie onder die mense wat daaronder ly. Die knellende droogte kan dit vererger.

“Agri SA het gewaarsku dat grootskaalse werksverliese, hiperinflasie en voedselonsekerheid die land sal tref as landbouproduksie nie vinnig ná die droogte herstel nie.”

Volgens Stern bly grondhervorming een van die grootste uitdagings, veral vir die regering. “Ekonomiese groei is stadig, armoede en ongelykheid gooi ’n skaduwee oor die jong demokrasie en die regerende party is onder toenemende druk.

“Met die landelike armes wat sukkel om basiese benodigdhede te bekom, kan mens net wonder wat die toekoms van grondhervorming is. Kan die proses bespoedig word? Sal dit geloofwaardige uitkomste bied? En wat sal die impak op voedselsekerheid en ons jong demokrasie wees?” het Stern gevra.

Die beoogde onteieningswet, wat tans pres. Jacob Zuma se handtekening afwag, is volgens Stern nog iets wat baie verwarring tussen lede veroorsaak.

“Ons moenie die fout maak om te dink dat die regering nou skielik hierdie wet sal kan gebruik om grondhervorming ’n hupstoot te gee nie. Ons glo dat die prosesse wat gevolg moet word – voordat daar enige onteiening kan plaasvind – heel voldoende is in dié opsig dat dit grondeienaars wel die nodige beskerming bied.

“Tans is ongeveer 19 200 plase in die mark. Dit is 45% meer as Februarie 2015. My punt is: Met so baie plase in die mark het die regering duidelik bewys dat hulle geensins verder belang stel om enige bykomende grond aan te koop nie,” aldus Stern.

’n Groot bron van kommer vir landbou in die Oos-Kaap is die watervlak van die Gariepdam. Watergebruik in die Oos-Kaap is reeds met 15% gesnoei. Sou die dam nie binne die volgende paar maande ’n noemenswaardige invloei vanuit Lesotho kry nie, hou dit groot probleme vir van besproeiingsboere in die Oos-Kaap in, het Stern bygevoeg.

Meer oor:  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.