Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wetgewing moet help om seewaters te beskerm
’n Argieffoto van oliebesoedeling in Mouillepunt wat die seelewe en kelp vernietig het. Foto: Jon Hrusa/IFAW

Nuwe wetgewing om oliebesoedeling in Suid-Afrikaanse seewaters te bekamp, word binnekort in die parlement voorgelê.

Die departement van vervoer het die wetsontwerp op mariene oliebesoedeling in die Staatskoerant gepubliseer, waarmee die regering sy regulasies in ooreenstemming kan bring met die internasionale konvensie oor oliebesoedeling-gereedheid, -reaksie en samewerking (OPRC).

Die wetgewing sal maritieme owerhede die mag gee om voorkomend op te tree waar die gevaar van oliebesoedeling bestaan en om oortreders vas te vat.

Oorlogskepe is gevrywaar van wetgewing wat met oliebesoedeling verband hou – meerendeels omdat hulle bedrywighede onder ander wetgewing val.

Daar is egter kommer oor of die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa), wat reeds onder onvoldoende geld en personeel gebuk gaan, die vermoë sal hê om die nodige patrolleerwerk vir die voorkoming van oliebesoedeling te doen.

Malcolm Hartwell, prokureur en direkteur by Norton Rose Fulbright, meen Samsa swoeg reeds om Suid-Afrikaanse seewaters te beveilig en uitvoering te gee aan ander verwante wetgewing. “Samsa het nie genoeg inspekteurs nie.”

Kapt. Vernon Keller, adjunk- operasionele hoof by Samsa, het per e-pos aan Rapport bevestig dat hulle nie genoeg mense het om die see te fynkam vir oliebesoedeling nie. “Ons het egter tegnologie om besoedeling oor ’n afstand te kan naspeur, soos satelliet-identifikasiestelsels en radar.”

Hy sê Samsa steun ook swaar op ander skepe om oliebesoedeling te rapporteer. Die grootste risiko-areas vir moontlike oliebesoedeling is wanneer daar swaar seeverkeer is – wat gereeld die geval is aan Suid-Afrika se lang kuslyn. “Ons sien gereeld dat skepe vir sloping ingesleep word en ander skepe wat in ’n slegte toestand is in ons waters vaar.”

Ingevolge die konsepwet moet die regering ’n gebeurlikheidsplan hê in geval van oliestortings in die see. Volgens Keller het Samsa so ’n plan en is dié se uitvoerbaarheid getoets.

Meer oor:  See  |  Wetgewing  |  Oliestorting  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.