Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Wittes se water moet gedeel word’

Die nuwe minister van water belowe om landbou-waterregte wat glo 95% in besit van wit boere is, te herverdeel.

’n Plaas in die Swartland met ’n windpomp.

Lindiwe Sisulu, minister van die nuut saamgestelde departement van menslike nedersettings, water en sanitasie, het die afgelope week in ’n onderhoud aan Rapport gesê waterregte gaan in haar termyn opnuut toegewys word om die historiese ongelykhede reg te stel.

“Dit is betreurenswaardig dat 95% van die 61% van die water wat die landbousektor in Suid-Afrika gebruik in die besit van wit boere is. Swart opkomende boere het slegs 5% van die regte vir watergebruik.

“Ons sal moet uitwerk hoe ons die toewysing op ’n gelyke grondslag gaan herverdeel.”

Sisulu het die afgelope week in haar begrotingsrede gesê haar departement werk aan ’n nuwe Wetsontwerp op Watergebruik wat dié nuwe bedeling moet omskryf. Dit het vrese laat ontstaan oor ingrypende veranderinge soortgelyk aan die minerale-regte-regimeveranderinge ’n dekade gelede.

Agri SA het in reaksie op Sisulu se bewerings gesê haar bewerings oor waterregte-houers is ongestaaf.

Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne, het aan Rapport gesê die eenvoudige feit is Sisulu se departement weet nie wat die rasse-samestelling van watergebruikers is nie.

Die gelisensieerde watergebruiksregte verskaf geen konteks van wie almal gebruikers is nie.

“Die departement het al etlike jare lank ’n proses aan die gang om te probeer agterkom wat is regmatige watergebruike, wie oefen daardie watergebruike uit en in watter gebiede en in watter volumes. Daar is nog geen vordering daarmee gemaak nie.”

Landbou is nie die eerste ‘nemer’ van water nie.
Janse Rabie van Agri SA

Rabie wys daarop dat die huidige Nasionale Waterwet uiteensit op watter maniere water gebruik kan word.

Dit sluit in die “skedule een”-gebruik vir huishoudings en byvoorbeeld om veldbrande te bestry, waarvoor geen lisensies nodig is nie.

Tweedens is daar algemeen-gemagtigde watergebruike wat deur die departement toegestaan word en dan water wat aan die landbousektor toegeken word.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie. Foto: Edrea du Toit

Volgens Rabie spruit die bestaande regmatige watergebruike in die landbousektor uit die 1998-wetgewing. Dit het bepaal dat boere wat twee jaar lank voor die inwerkingtreding van die wet (dit wil sê in September 1996) hul watergebruik regmatig uitgeoefen het, nie genoop was om vir ’n lisensie aansoek te doen nie.

“Dit beteken boere kon water gebruik het soos wat hulle gedoen het in die vorige bedeling en dis wat hulle gedoen het – hulle het windpompe gebruik, water getrek uit riviere en ander bronne,” sê Rabie.

Dit is egter van kritieke belang dat die departement van water en sanitasie sy verifiëring afhandel sodat hy presies kan weet hoe waterregtegebruik tans uitgeoefen word.

Mits die proses voltrek is, kan Sisulu nie bewerings maak dat 95% van gelisensieerde watergebruik in die besit van wit boere is nie, sê hy.

Sisulu het in haar toespraak gesê die feit dat 61% van die water deur landbou gebruik word, beteken dat 27% beskikbaar is vir ’n bevolking van meer as 60 miljoen mense in die land.

Rabie wys egter daarop dat landbou eers sy gedeelte van die water wat beskikbaar is kry nadat dit aan munisipaliteite, huishoudings en nywerhede toegeken is. “Landbou is nie die eerste ‘nemer’ van water nie,” sê hy.

Die feit dat die Suid-Afrikaanse landbousektor 61% van die water in die land gebruik, moet ook gesien word teen die agtergrond van internasionale tendense waar landbousektore sowat 70% van beskikbare water gebruik.

“Ons is een van die 30 droogste lande ter wêreld en ’n gebruik van 61% is dus relatief min – veral as jy in ag neem dat Suid-Afrika die enigste land op die vasteland is wat voedselsekerheid bied. Ons kan ons mense voed en só bring die sektor maatskaplike stabiliteit.”

Sisulu het aan Rapport gesê die herverdelingsproses van grond sal nie tot sy reg kom as waterregte nie saam met grond aan swart boere toegeken word nie.

“Grondeienaarskap sonder water gaan ons nêrens bring nie. Toegang tot water sal deeglik in ag geneem moet word in die beplanning hiervan.”

Rabie wys daarop dat waterwetgewing tans bepaal dat al die water in die land aan sy inwoners behoort. “Die minister is die bewaarhebber, maar dit maak haar nie die eienaar nie.”

Dit beteken egter ook dat die water wat op ’n bepaalde eiendom is, deel is van daardie eiendomsreg.

“Die gesprekke oor die herverdeling van watergebruiksregte sal dus met dieselfde omsigtigheid benader moet word as onteiening sonder vergoeding.”

Agri SA is spesifiek bekommerd daaroor dat die regering dalk kan besluit om te verander aan die huidige bestel ingevolge waarvan mens toegelaat is om watergebruiksregte oor te dra aan iemand anders.

“As hierdie reg weggeneem word, gaan dit verreikende gevolge hê vir die waarde van grond, want jou watergebruiksregte sal nie saam met jou eiendom oorgedra kan word aan ’n nuwe eienaar nie,” sê Rabie.

“As dié reg weggevat word, sal grond- en eiendomspryse val. Dit sal landbou in Suid-Afrika baie moeilik maak.”

Meer oor:  Agri Sa  |  Lindiwe Sisulu  |  Water  |  Boere  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.