Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wolkrisis: Bal nou in China se hande

Die streng wetgewing rondom die uitvoer van wol sal moontlik binnekort verslap word sodat veilings kan voortgaan en boere se kontantvloeikrisis opgelos kan word.

Die departement van landbou, bosbou en visserye het verlede week op ’n vergadering met die Suid-Afrikaanse wol-en-bokhaarkopersvereniging (Sawamba) gesê dit is krities om nou goedkeuring by China se doeanedepartement (GACC) te kry om die uitvoerproses gladder te laat verloop.

Die GACC moet ’n uitvoersertifikaat goedkeur wat die departement van landbou, bosbou en visserye moet uitreik wat aandui dat die wol op standaard is.

Wolveilings wat nou weekliks in Port Elizabeth moet plaasvind, word die een ná die ander gekanselleer omdat Sawamba, wat wol op die veilings koop, hom onttrek het.

Die streng wetgewing rondom die uitvoer van wol sal moontlik binnekort verslap word om wolboere en ander rolspelers se kontantvloeiprobleme om te los. Foto: Witness Media

Volgens Sawamba sal die veilings voortgaan sodra daar duidelikheid oor die uitvoervereistes van wol na China is.

Die organisasie se nege kopers wat meerendeels na China uitvoer, moet tot vyf maande wag omdat die wol ná die bek-en-klouseer-uitbreking vroeër vanjaar strenger gekeur word.

Dennis Louw, ’n wolboer van die plaas Vlakfontein van Jagersfontein, sê dit is vir alle wolboere ’n kontantkrisis.

“Dié week moes daar van my wol verkoop geword het, so dit veroorsaak ’n helse groot probleem vir ons kontantvloei. Daar is manne wat hul hele skeersels in het.”

Hul hoop is nou op volgende week se veiling.

Sawamba sal moontlik Vrydag ’n verslag uitstuur wat sal aandui of die veilings voortgaan of nie.

Louw sê met die droogte wat hulle die afgelope sewe jaar gehad het, moes die boere nog die heel tyd voerkoste betaal.

“Maar in hierdie stadium het ons ’n redelike normale jaar wat dit betref, so die manne se kontantvloei sou ’n bietjie beter begin lyk het as hulle al hul wol kon verkoop.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.