Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wynbedryf (eindelik) hof toe oor drankverbod

Die wynbedryf, wat deur die wynprodusenteorganisasie Vinpro verteenwoordig word, gaan uiteindelik hof toe oor die drankverbod wat dreig om die bedryf op sy knieë te laat.

Rico Basson, Vinpro se besturende direkteur.

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, sê die hofaansoek word Woensdag op ’n dringende grondslag in die hooggeregshof in Kaapstad gebring om die hof te vra om die verbod in die Wes-Kaap ongeldig te verklaar.

Vinpro sê die wynbedryf is een van die oudste landboubedrywe in die land wat die lewensbestaan van amper 270 000 werkers ondersteun, R55 miljard se inkomste vir die ekonomie oplewer en ’n sterk handelsnaam vir ’n unieke bate van die land opgebou het.

Die derde drankverbod is op 28 Desember vir ’n onbepaalde tydperk ingestel.

“Dit maak beplanning en gebeurlikheidsplanne onmoontlik.”

Vinpro sê die regering verskaf nie ’n verduideliking of duidelikheid oor wanneer die verbod hersien gaan word nie.

“Hierdie trots Suid-Afrikaanse bedryf wat ook sterk steun op toerisme en gasvryheid, bevind hom nou in ’n benarde posisie ná (altesame) 19 weke van ’n drankverbod. Dit het gelei tot ’n verlies van meer as R8 miljard aan direkte verkope en die moontlike sluiting van kelders en produsente wat ondergaan, wat 27 000 werksgeleenthede bedreig en die kwesbaarste in ons gemeenskappe in ’n armoedestrik hou met verreikend sosio-ekonomiese gevolge asook groter druk op die gesondheidstelsel.”

’n Buigsamer benadering is nodig, gegrond op geloofwaardige en empiriese inligting.
Rico Basson van Vinpro

Basson sê met die oes van 2021 wat vandeesweek begin, het die bedryf nou meer as 640 miljoen liter voorraad, waarvan 300 miljoen ongekontrakteer is.

Netwerk24 het voorheen berig oor die kopsere waarmee die bedryf nou sit omdat gevrees word daar gaan nie genoeg plek wees om die nuwe oes te verwerk en op te berg nie.

Die wynbedryf sê hy is uiteraard bekommerd oor die verwoestende uitwerking van die pandemie en ondersteun maatstawwe om infeksies te bekamp.

“Ons ondersteun egter nie ’n totale verbod op die verkoop van wyn terwyl daar alternatiewe intervensies is om die risiko’s te verminder nie.”

Basson sê Vinpro het geen ander keuse as om die hooggeregshof te nader nie.

’n Volslae of gedeeltelike verbod op drankverkope het sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie al 19 weke geheers.

Vinpro voer aan die verkeerde vlak van die regering hanteer die kleinhandelsverkope van drank gedurende die ramptoestand. Hy beskou die landwye verbod as onnodig, onregverdig en teenproduktief.

“ ’n Buigsamer benadering is nodig, gegrond op geloofwaardige en empiriese inligting, wat die provinsiale uitvoerende gesag bemagtig om die kleinhandelsverkope van drank vir die res van die pandemie te hanteer.”

Hy sê dit is omdat provinsiale owerhede gewoonlik verantwoordelik is vir die beheer van drankverkope, terwyl hulle ook in beheer is van gesondheidsorg en provinsiale hospitale.

“Hulle is dus beter toegerus om die fyn balans tussen lewens en lewensbestaan te bestuur.”

Vinpro sê die pandemie raak provinsies anders op verskillende tye en daarom sal die druk op hospitale verskil op verskillende tye.

“Ten spyte hiervan het die regering nooit ’n onderskeid tussen provinsies getref wat die drankverbod in werking stel of ophef nie. In stede daarvan is ’n nasionale verbod ingestel en weer opgehef, sonder inagneming van die omstandighede in individuele provinsies.”

Volgens hom word ’n dringende tussentydse verligting gesoek wat die premier van die Wes-Kaap die mag gaan gee om af te wyk van die besluit oor drank om verkope in die provinsie toe te laat.

Uiteindelik sal soortgelyke aansoeke in ander provinsies kom.

Die saak word op 5 Februarie aangehoor.

Basson sê nuwe infeksies, aktiewe gevalle en hospitaalopnames val nou vinnig landwyd, maar veral in die Wes-Kaap.

“Onder dié omstandighede is ’n drankverbod in die Wes-Kaap eenvoudig nie meer geregverdig nie,” sê hy.

“Gevolglik sal die hooggeregshof in Kaapstad gevra word om minister (Nkosazana) Dlamini-Zuma (minister van samewerkende regering en tradisionele sake) se verbod in die Wes-Kaap met onmiddellike ingang ongeldig te verklaar, indien die verbod nog 5 Februarie in plek is en die situasie nie versleg het nie.”

Meer oor:  Vinpro  |  Covid-19  |  Drankverkope  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.