Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wynbedryf juig oor Ramaphosa se plan met hawens

Die stigting van ’n nasionale hawe-owerheid as ’n onafhanklike filiaal van Transnet is goeie nuus, het die wynbedryf gesê.

Die Kaapstadse hawe is naas Durban die Suid-Afrikaanse hawe wat die meeste skeepsvraghouers per volume behartig. Foto: Unsplash

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag dié aankondiging op ’n mediakonferensie in die Kaapstadse hawe gemaak.

Die stap beteken dat die hawe-owerheid sy eie direksie sal hê.

LEES OOK: Proses begin vir onafhanklike hawe-owerheid – Cyril

Vinpro, die wynbedryfsliggaam van Suid-Afrika, het die aankondiging verwelkom.

“Die stand van Suid-Afrika se hawens bly ’n struikelblok op die pad na ekonomiese herstel, wat die land weens die effek van Covid-19 moet stap,” sê Rico Basson, Vinpro se besturende direkteur.

“Ons verwelkom daarom die president se aankondiging vroeër dat die nasionale hawe-owerheid ’n onafhanklike filiaal van Transnet gaan word.”

Die stap sal hopelik ook bydra tot hawens wat meer onafhanklik kan funksioneer en selfs meer van die private sektor gebruik maak.

Basson hoop ook dat geld in die hawens teruggeploeg sal word om in infrastruktuur, die aanskaffing en vervanging van toerusting asook in uitbreiding te belê.

Kaapstad se hawe is ’n belangrike hawe wat baie gewild op internasionale skeepsroetes is.

Dit is veral ook vir die wynbedryf strategies geleë, terwyl dit ook baie belangrik vir vrugte-uitvoer is.

Dié hawe is egter al ’n geruime tyd weens verskeie struikelblokke en probleme in die nuus. ’n Tekort aan toerusting en mannekrag, vertragings weens slegte weer en opeenhopings as gevolg van ondoeltreffendheid het al daartoe bygedra dat internasionale houerskepe eerder ander hawens gebruik.

LEES OOK: Nuwe toerusting in Kaapse hawe kan maar wind van voor kry

“’n Hawe wat nie optimaal funksioneer nie, is vir ons bedryf ’n groot strategiese uitdaging,” sê Basson.

Bykans die helfte van die wyn wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf produseer, word uitgevoer.

“Die wynbedryf ervaar verskeie bedryfsuitdagings in die Kaapstadse hawe. Dit is nie slegs uitvoer waarmee ons sukkel nie, maar ook met die invoer en aflaai van onder meer verpakkingsmateriaal soos wynbottels.”

Indien daar byvoorbeeld probleme ondervind word met die wynboere se verkryging van verpakkingsmateriaal, kan die rimpeleffek van so ’n oponthoud tot die uitvoer van die 2021-oes strek.

Brittanje, Duitsland, Nederland, die VSA en Swede is die vyf grootste markte waarheen Suid-Afrikaanse wyne tans uitgevoer word. Saam beloop dit ’n totale uitvoerwaarde van ongeveer R9 miljard, die tweede meeste van enige Suid-Afrikaanse landbouproduk.

In die jaar tot einde Februarie is 330,2 miljoen liter Suid-Afrikaanse wyn uitgevoer, 6% meer as in die vorige 12 maande.

Die uitvoer sluit 41% verpakte wyn en 59% grootmaatwyn in.

Die wynbedryf se uitvoer na lande in die Noordelike Halfrond is juis nou baie belangrik soos daardie lande hul somerseisoen ingaan, sê Basson.

Meer oor:  Transnet  |  Hawens  |  Wynbedryf  |  Landbou  |  Kaapstad  |  Vinpro  |  Uitvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.