Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wynbedryf kry goeie nuus oor uitvoer

Die wynuitvoerbedryf het Dinsdag ’n kollektiewe sug van verligting gegee toe bekend gemaak is hulle mag voortgaan om wyn uit te voer

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het in die Staatskoerant aangekondig die vervoer van wyn en enige varsprodukte na ’n uitvoerhawe mag voortgaan en dit mag uitgevoer word.

Dit behels ’n verslapping van die aanvanklike regulasies van die staat van inperking wat vanaf 26 Maart om middernag geld.

Die aankondiging kom nadat die bedryf nog so onlangs as Maandag gepleit het dat invoer weer hervat mag word.

wynuitvoer
Die wynbedryf wag nog vir die regering om te hoor of die verbod op uitvoer opgehef sal word. Foto: iStock

Alle wynbedrywighede, insluitende die produksie, verspreiding en verkope van alkohol (plaaslik en vir uitvoer), moes aanvanklik tydens die tyd van inperking tot stilstand kom.

“Ons verstaan die erns van die globale Covid-19-pandemie en ondersteun pres. Cyril Ramaphosa in sy besluit om uiterste maatreëls te tref om die veiligheid van die land se inwoners te verseker,” het Rico Basson, besturende direkteur van die wynprodusenteliggaam VinPro, voor die wysiging gesê.

“Die verbod op uitvoer en kapasiteitsbeperkings by ons belangrikste hawens sal egter ’n omvangryke uitwerking hê op die voortbestaan van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, en selfs nog belangriker, die lewensbestaan van die byna 300 000 individue wat in die waardeketting werk.”

Volgens Basson het voorspraak deur verskeie bedryfsorganisasies daartoe gelei dat die regering op die nippertjie, op 26 Maart net voor middernag, ’n toegewing gemaak het dat die oes waarmee die bedryf besig was, kon voortgaan.

Hy sê die bedryf het koersvas saamgestaan om parstyd onder uitdagende omstandighede en met beperkings voort te sit om die laaste druiwe vir 2020 in te bring.

vinpro
Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro.

Nagenoeg die helfte van Suid-Afrika se wyn word uitgevoer.

VinPro, die SA Liquor Brand Owners Association (Salba) en die uitvoerbemarkingsliggaam Wines of South Africa (Wosa) het ’n taakspan vir die bevordering van uitvoer saamgestel om voortgesette beraadslaging met die regering te versterk.

Volgens Maryna Calow, kommunikasiebestuurder van Wosa, is vertoë aan die departement van handel en nywerheid gerig om die verbod op te hef.

Suid-Afrika se uitvoer is reeds onder druk en die wynbedryf het ná ’n droogte van drie jaar gehoop dinge sou vanjaar verbeter.

Sy sê die wynuitvoerbedryf was net een van talle bedrywe wat in ’n ry gestaan het om te wag dat die regering op hul vertoë reageer. 

Die uitvoer van nie-noodsaaklike produkte uit die land is verbied ingevolge die regulasies van die staat van inperking.

Wosa
Maryna Calow, kommunikasiebestuurder van Wines of South Africa

Calow sê talle produsente sit met bestellings wat gevul moet word. Die produkte is meestal nog in pakhuise op plase. In enkele gevalle was die wyn reeds hawe toe gestuur.

Alle ander wynuitvoerlande word steeds te midde van die pandemie toegelaat om wyn uit te voer.

“Die werklikheid is dat ons erg benadeel sou word. In ander lande kan daar nog wyn in winkels gekoop word. In daardie opsig is daar steeds ’n aanvraag vir wyn en as dit uitverkoop raak en ons kan nie voorsien nie, gaan die winkels dit van elders kry.

“Dit beteken in wese dat ons moontlik ons posisie in die markplek sou verloor in baie van ons groot uitvoermarkte. Die meeste van ons produsente sit met bestellings wat hulle gereed is om te lewer.”

LEES OOK: Douglas Green-baas sny eie salaris met 50%

Tim Hutchinson, uitvoerende hoof van die wynmaatskappy DGB, het verlede week in ’n brief aan personeel gesê die afswaai in wynverkope, reeds weens die swak ekonomie, is vererger deur die verbod op wynverkope tydens die inperking.

Meer oor:  Vinpro  |  Wosa  |  Rico Basson  |  Wynbedryf  |  Inperking  |  Covid-19  |  Wynuitvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.