Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wynbedryf op randjie van afgrond

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf word deur swaar tye in die gesig gestaar, met baie ondernemings in dié sektor wat waarskynlik binne die volgende jaar hul deure gaan sluit.

PaardenKloof se wingerde beslaan 23 ha. Die plaas is, soos die res van die wynbedryf, bekommerd oor die impak indien die regering besluit om die alkoholverbod ná 11 Julie te verleng. Foto: PaardenKloof

Die waarskuwing is Donderdag deur Vinpro, die wynbedryfsliggaam, gerig ná ’n opname deur hom waaruit dit blyk heelwat sakeondernemings in die wynbedryf en sy waardeketting gaan moontlik nie die regering se vyfde algehele verbod op drankverkope oorleef nie.

Die opname wys ook dit is veral kleiner ondernemings, waarvan heelwat aan swart eienaars behoort, wat dié slag dalk nie die mas sal opkom nie.

Vrese dat die verbod verleng kan word, maak die bedryf boonop verder onrustig.

“Die feit dat die nasionale regering kies om nie ’n gedifferensieerde benadering te volg in sy besluitneming oor die bestuur van Covid-19 nie, beteken dat die huidige verbod ná 11 Julie vir ’n verdere vier tot vyf weke verleng kan word,” sê Rico Basson, Vinpro se besturende direkteur.

Vinpro het die opname onlangs onder 549 ondernemings en rolspelers in die wynbedryf en sy waardeketting gedoen.

Dit het die impak van Covid-19 op deelnemers soos wyndruifprodusente, wynkelders en ander wynverwante ondernemings ondersoek.

Ongeveer 22% van deelnemers verwag dat hulle nie die volgende jaar gaan oorleef nie.

“Nog meer kommerwekkend is die feit dat 46% van swart handelsnaam- en plaaseienaars vrees dat hul ondernemings nie die volgende jaar sal oorleef nie.”

Meer as die helfte van alle deelnemers (58%) sê die volgende 12 maande is kritiek en hulle oorweeg drastiese veranderinge om die huidige Covid-19-verwante uitdagings te oorkom.

“Die bedryf is op ’n kantelpunt weens die herhaalde beperkings op drankverkope. Heelwat wynondernemings staan op die rand van ’n afgrond en duisende werknemers se lewensbestaan word in die proses bedreig,” sê hy.

Impak van verbod op plaaslike handel

Byna twee derdes van al die deelnemers maak hul geld uit plaaslike wynverkope en die plaaslike mark is veral onontbeerlik vir kleiner wynkelders en handelsname wat op proelokale, gasvryheidsgeriewe en e-handel vir inkomste staatmaak.

Wyntoerisme, wat ook nou ’n knou toegedien is, is veral vir kleiner ondernemings van kardinale belang. Vinpro het juis in 2019 navorsing gedoen oor die ekonomiese waarde daarvan en bevind wyntoerisme is verantwoordelik vir 41% van hierdie kleiner ondernemings se totale omset.

“Dit is dan ook hierdie klein en mikro-ondernemings wat nie voldoende oorbruggingsfinansiering het om hulle deur die huidige en voortgesette inperkings te dra nie,” sê Basson.

Geen regeringshulp kan verdoemend wees

“Suid-Afrika is die enigste land wat ’n algehele verbod op drankverkope ingestel het sonder enige finansiële hulp van die nasionale regering af, ondanks herhaalde versoeke deur die wynbedryf,” sê Basson.

“Dit wil voorkom asof die regering apaties teenoor sy landsburgers se noodkrete om oorlewing staan.”

Vinpro en sy vennote in die wyn-, toerisme- en landbousektor het by die regering aansoek gedoen om finansiële hulp vir ondernemings wat reeds finansiële verliese van meer as R8 miljard gely het.

Tot dusver het die Wes-Kaapse departement van landbou gehoor gegee en twee inisiatiewe begin: Die Wine Tourism Worker Support Stipend-fonds is R12 miljoen sterk en die Producer and Brand Owner Protection Support Grant-fonds bewillig R13,5 miljoen.

Impak op werkers

Volgens die opname het heelwat deelnemers sedert die begin van die inperkings in Maart 2020 reeds baie mense afgedank. Daar was ook minder werk vir seisoenale werkers in die tyd en poste wat wel oopgegaan het, kon nie gevul word nie.

Van die ondernemings kon al hul personeel behou, hoewel sommiges nie volle salarisse kon betaal nie.

“Deelnemers vrees ’n verlenging van die verbod ná Sondag en as dit nog ses weke duur, sal slegs 51% van hulle hul gewone maandelikse betaalstaat kan dek.”

Dringende ingryping nodig

Basson sê Covid-19 bedreig Suid-Afrikaners se lewe en hul inkomste.

“Dit is beslis nie haalbaar om ’n hele bedryf se inkomstestroom te sluit elke keer as infeksies toeneem omdat landsburgers ongedissiplineerd is en die inentingsprogram vertraag word nie,” sê hy.

“Die regering moet dringend ingryp deur te sorg dat daar behoorlike polisiëring is en deur die inentingsprogram te versnel.”

Hy sê verder die drankverbod gaan nie net daaroor of mense hul gunstelingdrankie mag geniet of nie.

“Dit gaan ook daaroor dat ondernemings aan die gang moet bly om kos op die tafel te sit vir duisende gesinne. Solank as wat die regering voortgaan om hierdie ondernemings hul inkomste te weier, terwyl hulle geen verligting bied nie, sal ons al hoe meer mense sien wat nie net weens Covid-19 ly nie, maar ook weens armoede,” sê Basson.

“Hierdie irrasionele siklus moet ophou. Die regering moet ons bedryf óf gedeeltelik óf ten volle oopstel. Wesenlike strukturele skade is aan die volle waardeketting aangerig – van die wingerd en die wynkelder tot die mark en dit sal jare neem om te herstel.”

Só tref die verbod ondernemings en werkers

Wendy Petersen, bedryfsbestuurder van die Suid-Afrikaanse Wynbedryf-transformasie-eenheid (Sawitu), sê handelsmerke en plase in swart besit het die laaste paar jaar hard gewerk om voor te bly en volhoubaar te wees in ’n bedryf wat reeds onder uitdagings gebuk gaan.

“Die onlangse verbod op drankverkope het hierdie situasie vererger en ons is nie seker of hierdie ondernemings die volgende maand sal oorleef nie,” sê sy.

“Dit is hartverskeurend om te aanskou, aangesien die lewensbestaan van mense en hul gesin bedreig word weens ’n situasie buite hul beheer.”

PaardenKloof, een van die wynplase wat 100% in swart en vroulike besit is, is omtrent heeltemal van die plaaslike toerismemark afhanklik.

Daphné Neethling, eienaar van PaardenKloof, sê hul plaas maak sowat 99% op die plaaslike toerismemark vir hul inkomste staat.

“Ons het ons eie restaurante, wynproelokale en wynklub. Die inperkings het ons inkomste hieruit letterlik tot nul gedryf.”

Sy waarsku die situasie kan binne die volgende drie weke onhoudbaar word.

“Ons sal nie die wegkalwing van ons kontantvloei vir langer as drie weke kan volhou nie. Ons het 35 mense in diens en sal van 1 Augustus af personeel moet verminder tot tussen vyf en agt mense wat slegs op instandhouding sal fokus,” sê Neethling.

“Met ons vaste bedryfskoste steeds betaalbaar, sal ons alle fasette van die onderneming van 1 September af permanent moet sluit indien die inperking verleng word. Ons is oortuig daarvan dat ons kliënte, wat in die middel- tot hoë LSM-groep val, verantwoordelike drankverbruikers is en nie diegene is wat veroorsaak dat hospitaalbeddens in ongevalle-eenhede oorvol is nie. Ons glo daarom dat die beleid oor die alkoholverbod heeltemal onvanpas en laks is. Dit het eenvoudig nie die fyner nuanses van verbruikspatrone en verbruikersgedrag in ag geneem het nie.”

Carmen Stevens, eienaar van Carmen Stevens Wines, sê die voortslepende verbod op drankverkope sal die Suid-Afrikaanse wynbedryf onherroeplike skade berokken.

“Dit is roekelose besluitneming wat rampspoedige gevolge vir veral nuwe toetreders tot die bedryf gaan hê.”


Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Werkloosheid  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Drankverbod  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.