Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wynbedryf skarrel vir stoorplek voor parstyd

Die wynbedryf sit met die grootste eindvoorraad in sy geskiedenis weens die drankverbod wat verlede jaar die eerste keer ingestel is en moet nou moeilike besluite neem oor wat met die oormaat wyn gedoen moet word.

Is daar genoeg wynvate vir die nuwe oes? Die wynbedryf kap kop oor waar hulle hul nuwe wyn sal moet hou wat van die nuwe oes gemaak gaan word.

Die volgende oes begin voor einde Januarie by wynkelders aankom en weens die voorraad wat nie verkoop is nie, is daar net nie plek om die nuwe wyn wat gemaak gaan word te stoor nie.

Johan van Zyl, die drankmaatskappy Distell se direkteur van voorraadkettingbestuur, sê onder normale omstandighede dra die bedryf 200 miljoen tot 350 miljoen liter se voorraad.

“Dit is tipies vier maande se produk wat jy in voorraad het van een seisoen na die volgende om kontinuïteit te verseker.”

Volgens hom sit die bedryf op die oomblik met amper dubbeld soveel voorraad, amper 650 miljoen liter.

“Dit is die hoogste vlakke tot nog toe in die bedryf en dit is weens die eerste inperking wat aan die stertkant van die vorige jaar se oes afgekondig is.

“Daarna het wynverkope positief gereageer toe die verbod opgehef is, maar nie naastenby genoeg tussen uitvoer en binnelandse verkope om die groot hoeveelheid wyn te normaliseer nie.”

As ons einde Januarie verkope sou kon oopmaak, sou ons net-net deurkom. As dit 15 Februarie oopmaak, raak dit ’n krisis en enigiets daarna is ’n ramp.
Van Zyl

Distell se wingerdboukundiges skat vanjaar se oes gaan ’n normale of effens bonormale oes van 1,05 miljard liter wees.

“As ’n mens die somme maak en aanvaar ons gaan nie voor 15 Februarie in bedryf wees nie, verloor ons ’n redelike groot klomp verkope weens die verbod. Ons vermoed as die inperking langer as 15 Februarie strek, gaan ons ’n wesenlike gebrek van tussen 200 miljoen tot 250 miljoen liter aan stoorplek hê.”

Van Zyl sê dít beloop omtrent 330 000 ton druiwe.

“Ons weet nie hoe ons soveel druiwe gaan hanteer en verwerk nie, want jy kan nie pars as jy nie weet waarheen jy met die vloeistof gaan nie, hetsy dit is vir distillasie, konsentrasie of fermentasie. Dit is ’n baie moeilike situasie.”

Robertson Winery
Parstyd begin voor einde Januarie in die wynbedryf en 'n goeie oes word verwag. Foto: Robertson Winery

Die bedryf het normaalweg 1 200 miljoen liter se stoor- en verwerkingsvermoë – waarvan omtrent die helfte vir verwerking gebruik word en die helfte is vir die finale produk wat gestoor word.

Hy sê as daar nie nou ’n verbod was nie sou die bedryf net-net met die verkope planne kon maak vir stoorplek en om druiwesap te konsentreer.

Die kelders gaan gemiddeld twee keer per jaar deur hul kapasiteit. “Met ander woorde, as jy 100 liter se kapasiteit het, dan gaan jy 200 liter deursit soos jou produk skuif.”

Nadat die eerste druiwe gepars is, word dit verwerk en gestoor en dan kan jy ’n tweede gedeelte van die oes pars.

“As jou produk nie kan skuif nie, kan jy dit nie doen nie en niks nuuts inneem nie. Dit beteken ons sal die eerste inname kan hanteer, maar nie die tweede inname nie. Dit beteken jy kan nie die druiwe pars nie, daar is nie plek om te pars nie.

“Maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, die produsente en die bedryf is onder geweldige druk.”

Verlede jaar se inperking het kontantvloei onder ernstige druk geplaas.

Die meeste produsente se skuldverhouding is redelik hoog en kontantvloei is ’n wesenlike probleem.

“Nou is ons weer in die parsseisoen en hulle kan nie kontant inkry nie. As ons einde Januarie verkope sou kon oopmaak, sou ons net-net deurkom. As dit 15 Februarie oopmaak, raak dit ’n krisis en enigiets daarna is ’n ramp.”

Parstyd begin gewoonlik die laaste week in Januarie. Die goeie nuus is vanjaar is die oestyd ’n week tot twee weke laat.

Of die wyn waarvoor daar nie stoorplek gaan wees nie weggegooi gaan word, sê hy dit sal die heel laaste uitweg wees.

’n Verbruiker kyk na een van die bekende wyne van Distell. Volgens Vinpro verloor die wynbedryf R300 miljoen se verkope in winkels per week tydens die drankverbod.

Die bedryf kyk na vier opsies waarvan die eerste is om die druiwesap uit die parsproses dadelik in konsentraat om te skakel.

Volgens hom kan die bedryf 120 miljoen liter tot konsentraat verwerk. “Maar dit word teen ’n baie negatiewe prys vir die boer gedoen.”

Die tweede opsie is om die oormaat wyn te distilleer en die derde opsie om dit teen lae pryse uit te voer.

Hy sê die prys vir konsentraat en distillasie en vir laeprys-uitvoer se prys-realisering is tipies 50% tot 60% van wat dit normaalweg is.

Distell meen produsente gaan, konserwatief bereken, sowat R1,5 miljard verloor as in ag geneem word hoeveel minder vir die eindproduk gekry word.

Die heel laaste opsie is om dit nie te oes nie.

“As jy nie stoorplek het nie, kan jy nie druiwe inneem om te fermenteer nie.”

Dit is soos iemand wat jou kop onder die water druk en jou nie waarsku hoe lank hy dit gaan doen nie. As jy weet die verbod is vier weke, kan jy voorbereidings tref om te oorleef. Maar as jy nie weet of dit vier weke of ses maande is nie, is dit ’n massiewe verskil en moet jy drastiese stappe doen om te oorleef. Dit is daai geweldige onsekerheid wat dit amper onhoudbaar maak.
Lloyd

As die oes nie ten volle ingeneem kan word nie, gaan dit nie afgehaal word van die wingerde nie, en dit het weer ’n wesenlike impak op kontrakwerkers.

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, sê as die verbod nie op 15 Februarie opgehef word nie, gaan daar bottelnekke by kelders wees.

Dit is bo en behalwe die R300 miljoen per week wat in plaaslike verkope verloor word.

Boyce Lloyd, uitvoerende hoof van KWV, sê oor die jongste drankverbod wat onverwags en onbepaald verleng is: “Dit is soos iemand wat jou kop onder die water druk en jou nie waarsku hoe lank hy dit gaan doen nie.

“As jy weet die verbod is vier weke, kan jy voorbereidings tref om te oorleef. Maar as jy nie weet of dit vier weke of ses maande is nie, is dit ’n massiewe verskil en moet jy drastiese stappe doen om te oorleef. Dit is daai geweldige onsekerheid wat dit amper onhoudbaar maak.”

Lloyd sê wyn is ’n landbouproduk wat groei. “Jy kan nie vir die plant sê daar is twee weke se verkope in sy maai nie.”

Hy sê die verbod gaan op produk-afskrywings neerkom.

“Jy het onverwerkte materiaal waarvoor jy nie ’n mark het nie.”

Hy sê oor ’n gedeelte van die druiwe wat inkom, moet nog besluit word.

“Jy het tipies een van twee keuses, jy gaan doodeenvoudig die druiwe weggooi en dit nie pars nie en nie verder waarde toevoeg nie, of jy gaan minimale waarde toevoeg in die hoop dat jy dit in grootmaat kan verkoop aan wie ook al dit vir iets soos uitvoer wil hê.”

Hy sê die storie “dat jy wyn kan distilleer vir alkohol en ontsmettingsmiddel is ’n klomp bog”.

“Dit kos twee keer soveel om alkohol van druiwe te maak as van grane, suiker en molasse en jy gaan ’n verlies maak as jy dit probeer verkoop.”

Ook KWV het nie stoorplek in sy wynkelders nie.

Die kristalbal is tans baie duister en die bedryf word deur uitdagings in die gesig gestaar waarvoor daar nie eintlik 'n bloudruk is nie.
Cronje

Pieter Cronje, bemarkingshoof van UniWines Vineyards in die Breedekloof, sê die bedryf sit in geheel met die hoogste volume jaareindvoorraad in dekades. "'n Groot bydraende faktor tot die uitermate groot voorraadvlakke is die maande lange binnelandse verbod.”

Hy sê UniWines word ook negatief geraak deur die binnelandse verbod, maar dat die maatskappy gelukkig ook 'n baie groot uitvoermark het waar groei ervaar word.

"Met die 2021 oes op hande is die dilemma dat die bedryf nie nodwendig meer genoeg stoorplek het vir al die wyne nie. Niemand is dit gevrywaar nie. Daar is baie min kelders in die bedryf met genoegsame leë tenks. Ons moet dus baie kreatief wees in terme van genoeg kapasiteit skep om die opkomende pars te kan akkommodeer.”

Hy sê hulle het klaar besluite in Desember geneem om van hul produk aan te bied as vrugtesap en konsentraat wat nie as wyn vewerk sal word nie. “Maar dit kom ongelukkig teen ’n prys en dit het beslis 'n nadelige impak op verdienste in die algemeen."  

Ons het gehoop verkope kan in Februarie begin, want hoe meer tyd ons het om verkope te doen voordat ons begin pars, hoe meer ruimte skep ons in ons kelder.
Verwey

Cronje sê ook dat die huidige verbod verdere onsekerheid skep wat beplanning op bestuursvlak baie moeilik maak.  

“Die kristalbal is tans baie duister en die bedryf word deur uitdagings in die gesig gestaar waarvoor daar nie eintlik 'n bloudruk is nie.”

Pieter Verwey, bedryfshoof van Namaqua Wyne van Vredendal, sê: “Ons is geseënd met ’n baie goeie oes in hierdie baie onsekere tyd. Maar ons is in die ietwat gelukkiger posisie dat ons al die ingeskrewe tonne van ons lede kan inneem. Ons is orraait met plek. Ons is van die min kelders wat so gelukkig is.”

Hy sê die impak van Covid-19 het egter gemaak dat hulle voorheen buitemense sou kon help met stoorplek, maar omdat hulle nie kan verkoop nie, kan hulle dit nie nou doen nie.

“Ons het gehoop verkope kan in Februarie begin, want hoe meer tyd ons het om verkope te doen voordat ons begin pars, hoe meer ruimte skep ons in ons kelder.”

Meer oor:  Kwv  |  Distell  |  Johan Van Zyl  |  Drankbedryf  |  Drankverkope  |  Drankverbod  |  Wynbedryf  |  Parstyd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.