Die bedryfsliggaam vir kelders en produsente in die wynbedryf Vinpro sê hy is “uiters teleurgesteld” in die besluit om die drankverkbod te verleng.

Drankwinkels is reeds van 28 Desember af gesluit. Foto ter illustrasie.
Rico Basson, besturende direkteur, sê Vinpro is deeglik bewus van die erns van die Covid-19-pandemie en verstaan die uitdagings waarmee die regering te kampe het omdat infeksies toeneem.
Vinpro wag vir regsadvies wat ons inwin en sal sodra ons dit ontvang het, ’n besluit neem oor verdere stappe.
Vinpro
“Maar hierdie voortgesette algehele verbod op wettige drankverkope kan nie geregverdig word nie. Ons is uiters teleurgesteld in die verlengde verbod op plaaslike drankverkope, wat in effek die vierde verbod is sedert die uitbreking van die koronavirus verlede jaar.”
Sedert Maart 2020 was daar vir meer as 17 weke (18 weke op 15 Januarie 2021) ’n verbod op die wettige verkoop van alkohol.
Vinpro sê dit het tot ’n verlies van meer as R8 miljard aan verkoopsinkomste gelei.
Volgens die bedryfsliggaam is die gevolg hiervan dat die bedryf nou meer as 640 miljoen liter wyn in voorraad het.
Dit is gelykstaande aan 65% van ’n normale oes.
Die oes begin volgende week in die wynbedryf terwyl die bedryf met onvoldoende kelderspasie sit.
“Die verdere sewe weke verbod (28 Desember tot vermoedelik 15 Februarie) gaan ’n wesenlike implikasie hê aangesien dit ’n verdere 45 miljoen liter by die voorraadsyfer kan voeg.”Vinpro sê gebrekkige kontantvloei is nou ’n groot uitdaging vir die bedryf.
“Die wynbedryf is in ’n benarde posisie vanuit ’n ekonomiese en voortgesette werkskeppingsperspektief en hierdie vierde verbod gaan die spreekwoordelike spyker in die doodskis vir verskeie wynverwante ondernemings wees”.
Basson sê finansiële hulpverlening van die regering is nou ’n noodsaaklikheid indien die bedryf ’n ramp wil vermy.
“Vinpro wag vir regsadvies wat ons inwin en sal sodra ons dit ontvang het, ’n besluit neem oor verdere stappe.”