Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wynbedryf win regsadvies in oor drankverbod

Vinpro, die bedryfsliggaam van wynprodusente wat 2 500 wynprodusente en kelders verteenwoordig, sê hy win regsadvies in oor die verbod op binnelandse wynverkope.

Die drankbedryf stel voor die regering laat winkels weer toe om van 16 Januarie af drank te verkoop. Foto: Getty Images

Dit volg nadat die bierreus SAB vandeesweek ’n aansoek teen die regering gebring het om die grondwetlikheid van die derde verbod op drankverkope te betwis.

Intussen sê die drankmaatskappy Distell hy oorweeg nie op die oomblik regstappe nie, maar die standpunt sal hersien word as die huidige verbod langer duur as 15 Januarie. 

Voor die SAB het nog net ’n groep wynplase en verteenwoordigers van wyntoerisme-roetes op hul eie sonder die ondersteuning van bedryfsliggame ’n aansoek teen die regering oor die vorige drankverbod gebring.

LEES OOK: Drankverbod: Eerste hofsaak teen staat ingedien

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, sê die bedryf is deeglik bewus van die erns van die Covid-19-krisis en verstaan die probleme waarmee die regering en inwoners van die land te kampe het soos wat die infeksies toeneem.

“Maar ons is van mening dat die derde algehele verbod op wettige wyn- en drankverkope nie geregverdig kan word nie.”

Ons is bewus van die regstappe deur SAB en kan bevestig dat Vinpro ook besig is om regsadvies in te win oor die verbod op binnelandse wynverkope.
Basson

Hy sê die bedryf glo daar is “meer redelike opsies beskikbaar, en die verbod op verkope het reeds, en sal voortgaan, om 'n vernietigende uitwerking op die Suid-Afrikaanse wynbedryf te hê”.

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro.

“Daarbenewens is onwettige handel besig om momentum op te bou, wat 'n groot bedreiging vir die samelewing op lang termyn inhou.”

Die wettige plaaslike drankbedryf was sedert Maart verlede jaar vir meer as 15 weke gesluit.

“Gegewe die bewyse van die verbod se uitwerking, ondersteun ons nie die voortgesette verbod op die alkoholbedryf nie. Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is in 'n benarde posisie en die derde verbod het die situasie vererger.”

Volgens Basson voer die bedryf tans verskeie gesprekke met regerings op provinsiale en nasionale vlak, en het die bedryf spesifieke voorstelle oor meer lewensvatbare oplossings voorgelê “wat onmiddellik in werking moet tree, nie later nie as 16 Januarie”.

“Ons is bewus van die regstappe deur SAB en kan bevestig dat Vinpro ook besig is om regsadvies in te win oor die verbod op binnelandse wynverkope.”

Regsopsies word oopgehou

Richard Rushton, uitvoerende hoof van Distell, sê dié maatskappy het nog altyd sy opsies oopgehou vir regsoptrede, maar verkies om ’n “konstruktiewe, samewerkende rol te speel om saam met die regering en ander belanghebbendes ’n werkbare oplossing vir gedeelde probleme te vind”.

Richard Rushton, besturende direkteur van Distell, Vrydag by die JSE met die notering van die nuwe groep. Foto: Verskaf

Rushton maan egter die drank-, gasvryheid- en toerismebedryf sal nie ’n verdere verbod op die verkope van drank kan bekostig ná 15 Januarie nie.

“Die maatskappy sal sy standpunt (oor sy regsopsies) hersien wanneer die nasionale koronavirusbevelsraad later vandeesmaand oor die drankverbod besluit het.”

Hy sê Distell deel die kommer in die bedryf oor die proses wat gevolg is en die wetenskap agter die algehele verbod, in teenstelling met geteikende intervensies.

“Hoewel die besluit om verkope te verbied ’n ernstige uitwerking op die maatskappy en die wyer bedryf sal hê, ondersteun Distell die regering se pogings om die pandemie onder beheer te bring,” sê hy. “Ons ondersteun al die beproefde gesondheidsintervensies om die virus se verspreiding te keer.”

Nie deel van SAB se regsgeding

Die magtige drukgroep vir die drankbedryf Salba glo daar is nog ’n geleentheid vir die regering om te besluit om die verbod voor 15 Januarie te hersien.

Sibani Mngadi, voorsitter, sê Salba neem kennis van die regstappe wat die SAB oor die nuwe verbod gedoen het.

“Hoewel ons baie bekommerd is oor die huidige verbod op alle alkoholverkope, is Salba nie deel van die regsgeding wat SAB gebring het nie.”

Salba sê hy deel die kommer oor die voortgesette toename in infeksies met die virus, en wil saam met die regering en die samelewing werk om die invloed van die pandemie op die gesondheidstelsel en virusverwante sterftes te verminder.

Salba is ’n vereniging wat drankvervaardigers en -verspreiders verteenwoordig. Sy lidmaatskap sluit in groot drankondernemings soos Distell, Diageo, Pernod Ricard, DGB, KWV en RGBC.

Hoop vir drankwinkels gekoester

Sibani Mngadi, voorsitter van Salba. Foto: Verskaf

“Daar is nie ’n groter gevaar om die virus op te doen as drank verkoop word vir tuisgebruik nie. Drankwinkels is net soos kruidenierswarewinkels bedrywig.

“Die regering het nie ’n rede gegee vir hoekom drankwinkels se verkope verbied word nie en daar is geen regverdiging om die verbod ná 15 Januarie te laat voortduur nie,” sê Mngadi.

Drank word op persele bedien of verkoop om weg te neem. Dis laasgenoemde wat die bedryf glo oopgehou moet word. 

Salba sê die verbod op alle vorme van verkope het net tot ’n skerp toename in onwettige handel gelei, asook die gepaardgaande verliese vir die regering in aksynsbelasting, BTW en maatskappybelasting.

Die regering voer aan die drankverbod is nodig om drankverwante ongelukke en dié bykomende druk op hospitale te verminder.

“Ons is bewus van die bykomende druk wat ’n minderheid in Suid-Afrika wat alkohol misbruik op staatshospitale het wat reeds onder druk is en te min hulpbronne het,” sê Rushton.

“Ons is nie naïef oor die kwessies nie en het al die moontlike stappe gedoen om verantwoordelike alkoholverbruik te bevorder, en sal voortgaan om dit te doen."

Meer oor:  Salba  |  Vinpro  |  Distell  |  Rico Basson  |  Wynbedryf  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.