Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Zeder se toekoms in die weegskaal

Zeder se toekoms is onseker noudat dié beleggingsbeheerfirma se belang in Pioneer Foods en Quantum Foods verkoop is.

Norman Celliers, uitvoerende hoof van Zeder.

Die maatskappy het Woensdag aangekondig dat Norman Celliers vanaf 1 Oktober as uitvoerende hoof uittree, maar die direksie sal bystaan om die maatskappy se strategie te “heroorweeg”.

Volgens die maatskappy se verklaring is Zeder “goed gekapitaliseer” en in ’n goeie posisie om geleenthede in die mark te ontgin indien die direksie besluit om nié van strategie te verander nie.

Zeder sê hy is steeds in “uitstekende” maatskappye belê wat voordeel uit ’n uitbreiding na die res van Afrika en verdere investering kan trek.

Daar word egter alom aanvaar dat Pioneer en Quantum die maatskappy se belangrikste bates was.

Die belang van 28,6% in Pioneer is as deel van die verkryging van Pioneer deur PepsiCo vir nagenoeg R6,4 miljard verkoop.

Die groep se belang van 32,1% in die hoenderprodusent Quantum is vir R308 miljoen aan Country Bird verkoop.

Tans is Zeder se belangrikste beleggings sy belange in Zaad, Capespan en Kaap Agri.

Zeder besit ’n 95,7%-belang in Zaad, wat saad en landbouchemikalieë produseer, invoer en versprei. Die maatskappy het ’n jaarlikse omset van R2 miljard. Hy besit 41% van die landbou-kleinhandelaar Kaap Agri, met ’n omset van R8 miljard per jaar, en 96,7% van die vrugte-uitvoermaatskappy Capespan, met ’n omset van R4 miljard per jaar.

Celliers was agt jaar in diens van Zeder. Die direksie sê hy was deurslaggewend om die maatskappy se beleggingsportefeulje te “rasionaliseer” en ondernemings waarin die groep belê het in “volwasse kommersiële ondernemings” te omskep. Hy het ook gehelp om aan sekere beleggings te onttrek.

Die direksie bedank hom vir sy leiding en wens hom sterkte toe met sy toekomsplanne.

Johann le Roux, finansiële hoof, sal in sy plek waarneem. Hy is al ses jaar in die groep se diens.

Zeder se aandeelprys het Woensdag ná die aankondiging 1,81% hoër op R2,25 gesluit. Die groep het vir die jaar tot dusver 53,32% se markwaarde verloor.

Meer oor:  Kaap Agri  |  Zeder  |  Pioneer Foods  |  Landbou  |  Beleggingsbeheerfirma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.