Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Zim stuit invoer van SA mielies: Wat jy moet weet

Zimbabwe het verlede week aangekondig alle invoer van mielies en mieliemeel uit Suid-Afrika word onmiddellik gestaak.

In 2020 was mielies, in waardeterme, Suid-Afrika se vyfde grootste landbouproduk wat uitgevoer is met sitrus, druiwe, wyn en appels die vier topuitvoerprodukte. Foto: Unsplash

Hoewel belangrik, gaan dié nuus nie noodwendig Suid-Afrikaanse mielieboere in die aande laat wakker lê nie. Dit is eerder verbruikers wat opnuut bewus gemaak word van die kans dat stygende kospryse van produkte wat afhanklik is van mielies, soos pap, ons voorland is.

Gedurende die 2020-’21-bemarkingsjaar, wat in Mei 2020 begin en in April 2021 geëindig het, het Suid-Afrika die meeste van sy mielies na Zimbabwe uitgevoer. Van die 2,6 miljoen ton mielies wat Suid-Afrika uitgevoer het, is ongeveer 20% na Zimbabwe gestuur.

Dit het Zimbabwe in die afgelope jaar die grootste mielie-uitvoermark vir Suid-Afrikaanse mielies gemaak, volgens Agbiz.

Hoekom wil Zim nie SA se mielies hê nie?

Die rede vir Zimbabwe se besluit is nie ’n groot verrassing nie omdat markte ’n geruime tyd al verwag dat Zimbabwe ’n baie goeie mielieoes gaan hê.

Volgens data van die Amerikaanse departement van landbou (Usda) kan die plaaslike oes daar 2,7 miljoen ton beloop en sal dit Zimbabwe se grootste oes sedert 1984 wees.

Die menings van plaaslike ontleders stem oor die algemeen ooreen met dié van die Usda, sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz.

Suid-Afrika, wat voorheen voordeel getrek het uit Zimbabwe se aanvraag na mielies, kan nou self met ’n oorskot van 2,8 miljoen ton sit wat vir ander uitvoermarkte beskikbaar is.

“Zimbabwe se verwagte groot mielieproduksie word hoofsaaklik toegeskryf aan groter oppervlaktes wat aangeplant is en gunstige reënval sedert die begin van die seisoen.

“Wat belangrik is, is om kennis te neem dat Zimbabwe die grootste mieliesurplus in byna drie dekades gaan hê. Die land se jaarlikse mielieverbruik is tussen 1,8 en 2 miljoen ton, terwyl ’n oes van 2,7 miljoen ton verwag word.

“Suid-Afrika, wat dus voorheen voordeel getrek het uit Zimbabwe se aanvraag na mielies, kan nou self met ’n oorskot van 2,8 miljoen ton sit wat vir ander uitvoermarkte beskikbaar is,” sê Sihlobo.

Ander uitvoergeleenthede

Die goeie nuus vir mielieboere, volgens Agbiz, lê in die potensiaal van ander lande en markte wat vir uitvoer ondersoek kan word.

En dit gaan nodig wees om mielies aan internasionale markte te verkoop, want as die voorspellings waar word, gaan Suid-Afrika met ’n oes van 16,7 miljoen ton mielies sit, die tweede grootste mielieoes wat tot nog toe aangeteken is.

“Met Zimbabwe as ’n potensiële uitvoermark uit die prentjie, en verskillende mielieproduserende lande in die Suider-Afrika-streek soos Malawi, Zambië, Tanzanië en Mosambiek wat self groot oeste verwag, sal die streek se vraag na Suid-Afrikaanse mielies ook minder as gewoonlik wees,” sê Sihlobo.

Die lande wat Agbiz voorstel as waarskynlike markte vir mielie-uitvoere is lande in die Verre Ooste soos Taiwan, Suid-Korea en Japan.

Die invloed van die mielieprys

Op 20 Mei was Suid-Afrika se prys vir geel en wit mielies op ’n jaar-tot-jaar-grondslag hoër.

Vir geel mielies was dit 27% teen R3 395 en vir wit mielies 19% teen R3 270 per ton hoër.

Die hoër mieliepryse wêreldwyd, wat ons plaaslike mielieprys geanker hou, word ondersteun deur die ongunstige weerstoestande in Suid-Amerika en die algemeen groeiende Chinese vraag.

Die Suid-Afrikaanse mieliepryse is tans teen uitvoerpariteitspryse wat jaarliks met byna 70% gestyg het as gevolg van die wêreldwye faktore, soos reeds uiteengesit hier bo.

Die uitvoerpariteitspryse word bereken deur die internasionale mielieprys te vermenigvuldig met die wisselkoers, minus transaksiekoste. So word ’n vloerprys vir plaaslike mielies vasgestel.

Namate die plaaslike pryse nader aan uitvoerpariteitsvlakke beweeg, word Suid-Afrikaanse mielies al hoe meer mededingend met internasionale uitvoermarkte.

“Daarom bly ons glo dat kopers in die Verre Ooste steeds gunstig sal kyk na die Suid-Afrikaanse mark vir veral geel mielies.

“Zimbabwe se besluit sal wel plaaslike uitvoerders verontrief wat reeds gevestigde verhoudinge met die invoerders in Zimbabwe het.

“Tog sal die beleidsaksie van ons buurland op sigself waarskynlik ’n beperkte invloed op die Suid-Afrikaanse mieliepryse hê. Die pryse is reeds teen uitvoerpariteitspryse en word hoofsaaklik deur breër wêreldwye ontwikkelings eerder as die streeksbeleidsveranderings ondersteun.”

Die druk op verbruikers

Volgens Sihlobo sal die relatief hoë mieliepryse wat Suid-Afrika nou het vir die afsienbare toekoms nie daal nie, tensy daar ’n verandering in die wêreldwye mieliemark kom.

“Die internasionale mielievoorraad is tans knap en dit bly dus hoër pryse steun. Enige veranderinge sal dus afhang van die wêreldvooruitsigte vir die 2021-’22-mielieoes.”

Die lande in die Noordelike Halfrond begin nou aanplant en sal aan die einde van die jaar oes. Hoewel dit vir Suid-Afrika ’n marginale daling in pryse kan beteken namate die internasionale oes momentum kry, moet wêreldwye faktore steeds dopgehou word.

“Daarom glo ons dat die land se veebedryf, wat afhanklik is van die plaaslike graanbedryf, op kort termyn steeds die hoër insetkoste sal moet bestuur. Dit sal uiteindelik die verbruiker beïnvloed en maatskappye soos Astral Foods het reeds aangedui dat hulle binnekort die hoër insetkoste aan verbruikers gaan deurgee.

LEES OOK: Só gaan prys van hoender styg – nie oor voëlgriep

“Suid-Afrikaanse verbruikers sal dus die las dra van die stygende kospryse, nie as gevolg van plaaslike voorraadvlakke wat te laag is nie, maar vanweë die onsekere aard van die wêreldwye landboutoestande op die oomblik,” sê Sihlobo.

Meer oor:  Zimbabwe  |  Graan  |  Geelmielies  |  Voer  |  Mielie-Oes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.