Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
2 OBK-direkteure van VBS 'misdadig'

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het dit verwelkom dat twee van sy oudwerknemers wat hom op die direksie van VBS Mutual Bank verteenwoordig het, tot misdadige direkteure verklaar is.

 vbs
Die embleem van VBS Mutual Bank.

Die hooggeregshof in Johannesburg het verlede week beslis Ernest Nesane en Paul Magula het hul pligte as direkteure van dié besteelde bank versaak. Die OBK het die aansoek gebring om hulle tot misdadige direkteure ingevolge die Maatskappywet te laat verklaar.

Dit beteken hulle mag vir minstens sewe jaar óf lewenslank nie weer direkteure van enige maatskappy wees nie. Dis onseker of die hof ’n spesifieke tyd vasgestel het.

Nesane was voorheen die OBK se regshoof en Magula sy risikohoof.

Die OBK het R180 miljoen in VBS belê en het ook wentelkrediet van R350 miljoen aan die bank verskaf.

Magula is in April 2018 ná ’n dissiplinêre verhoor afgedank en Nesane het bedank kort nadat hy voor adv. Terry Motau getuig het oor gebeure by VBS. Motau het die forensiese ondersoek na VBS namens die Reserwebank gedoen nadat die Reserwebank VBS in Maart 2018 weens ernstige kontantvloeiprobleme in kuratele geplaas het.

Motau se verslag, “The Great Bank Heist”, was verdoemend oor die bedrog wat deur topbestuurslui en direkteure van VBS gepleeg is. Meer as R2 miljard het verdwyn.

Nesane en Magula het volgens dié verslag R7 miljoen se omkoopgeld elk ontvang om stil te bly oor die bedrog by die bank.

Nesane en Magula is ook voorheen deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor van die rol geskrap.

Die OBK sê in ’n verklaring die hofbeslissing “stuur ’n belangrike boodskap aan alle direkteure om hul fidusiêre verantwoordelikhede ernstig te bejeën en beklemtoon dat onetiese gedrag deur leierskap nie sonder gevolge kan wees nie”.

Die besluit kom terwyl die OBK self sukkel om sy geloofwaardigheid te herstel nadat twyfelagtige beleggings gedoen is terwyl dr. Daniel Matjila die uitvoerende hoof was. Dis tans die onderwerp van ’n kommissie van ondersoek onder leiding van regter Lex Mpati. Dié kommissie moet sy verslag en aanbevelings teen 31 Oktober aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig.

Matjila het einde verlede jaar bedank.

Meer oor:  Vbs  |  Obk  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.