Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
2de vlaag knou Netcare se wins

Sake het net begin herstel vir die hospitaalgroep Netcare toe die tweede vlaag van Covid-19 tref en hom weer gelaat het in ’n situasie waar minder mense opgeneem kon word vir ander siektes en beplande operasies.

netcare
Die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg, een van die vlagskip-hospitale van die privatehospitaalgroep Netcare. Foto: Facebook/Netcare

Dít het sy inkomste en wins benadeel.

Die hospitaalgroep sê in ’n handelsoorsig sy eerste helfte tot einde Maart het sterk verbeter teenoor die vorige ses maande tot einde September 2020.

Ongelukkig het die tweede vlaag sy inkomste en wins negatief geraak vergeleke met die ooreenstemmende tydperk toe daar nog nie ’n inperking vir die pandemie in Suid-Afrika was nie.

Sedert die eerste Covid-19-pasiënt op 9 Maart verlede jaar behandel is, het die hospitaalgroep reeds 71 000 pasiënte met die virus behandel. Van hulle is 31 000 opgeneem en omtrent 26% van dié wat opgeneem is, was in die hoësorg- of waakeenheid.

Operasies gestaak

Netcare sê die halfjaar se bedrywighede is geraak deur die ernstiger variant wat versprei het met die tweede vlaag. Meer mense is opgeneem in sy hospitale as in die vorige ses maande.

So verskil opnames vs halfjaar tot Maart 2020


• Die pasiëntdae in die hospitaal daal met byna 14%;

• Die pasiëntdae in psigiatriese hospitale daal met byna 13%;

• Tyd in die operasieteaters daal met byna 21%; en

• Inkomste per pasiëntdag in die hospitale styg met byna 10%.

Die inperkings wat weer ingestel is met die tweede vlaag, het ’n invloed op beplande operasies gehad en het tot ’n merkbare vermindering in ander opnames gelei.

Beplande operasies is op 19 Desember gestop en net noodsaaklike en tydsensitiewe operasies is toegelaat. Dit het tot ’n daling van byna 21% in teatertyd gelei vergeleke met die ooreenstemmende halfjaar (sien die invloed op ander syfers hierby).

Beplande operasies is eers weer toegelaat ná ’n afname in infeksies in die derde week van Januarie.

Lesse geleer

“Die lesse van die eerste vlaag ten opsigte van die vraag na beddens en die korter tyd in die hospitaal vanweë doeltreffender behandeling vir Covid-19-pasiënte, het ons gehelp om ’n meer genuanseerde benadering in die tweede vlaag te volg.”

Dit het ’n beter vertoning teenoor die vorige ses maande tot gevolg gehad (sien hiernaas).

Vergeleke met die ooreenstemmende halfjaar (dus tot einde Maart 2020) gaan sy inkomste na verwagting met ’n maksimum van 6,5% daal.

Die bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering (ebitda) gaan na verwagting met ’n maksimum van 38% daal.

Vergeleke met die vorige ses maande (dus tot einde September 2020) kan die inkomste met ’n maksimum van 24,5% styg en die bedryfswins met 672%.

Koste styg

Sy bedryfswinsmarge was in die halfjaar tot einde September 2,4% en dit is nou tussen 14,5% en 15,1%.

Vergeleke daarmee was sy bedryfswinsmarge in die ooreenstemmende halfjaar 22%.

Die daling in winsmarges word toegeskryf aan die verlies aan handel terwyl sekere bedryfskoste nie ’n soortgelyke daling toon nie, asook bykomende koste wat met die pandemie verband hou.

So verskil opnames, inkomste vs halfjaar tot September 2020


• Die pasiëntdae in die hospitaal styg met 24%;

• Die pasiëntdae in psigiatriese hospitale styg met byna 47%;

• Tyd in die operasieteaters styg met 23%; en

• Inkomste per pasiëntdag in die hospitale is 0,6% op.

Die koste wat met Covid-19 verband hou, het sowat R300 miljoen beloop in die halfjaar. Dit sluit in die invloed op die spreekkamers wat dokters by die groep huur; inkomste uit parkeerplek; en die huur gegrond op inkomste wat van apteke en koffiewinkels by sy hospitale ontvang word. Die huur van spreekkamers het genormaliseer in die halfjaar, maar die ander inkomste het onder druk gebly.

Hospitale voller

Sy hospitale was in die halfjaar gemiddeld 53,8% vol, vergeleke met 62,3% in die ooreenstemmende halfjaar tot einde Maart 2020. Dit is beter as die 42,8% in die halfjaar tot einde September.

Sy psigiatriese hospitale is 60,6% vol. Dit is beter as die 41% in die halfjaar tot einde September, maar swakker as die 68,9% in die ooreenstemmende halfjaar.

Die bestendige verbetering in die vlak van bedbesetting is toegeskryf aan die toename in beplande operasies in Oktober en November en die toename in Covid-19-gevalle in Desember, wat tradisioneel ’n minder aktiewe maand is.

“Ondanks die verbetering in die eerste halfjaar van die huidige boekjaar teenoor die vorige ses maande, het bedbesettingsvlakke nog nie herstel tot wat dit was voor die pandemie nie.”

Dokters, tandartse trek swaar

Netcare se Medicross-ondernemings waar dokters en tandartse praktiseer, het ’n bestendige verbetering getoon. Konsultasies het met 18,5% toegeneem op ’n vergelykende grondslag met die vorige halfjaar. Die konsultasies is egter steeds sowat 12% laer as die ooreenstemmende halfjaar weens die invloed van Covid-19.

Vergeleke met die ooreenstemmende halfjaar daal die inkomste van dié deel van Netcare met 14% weens minder pasiëntbesoeke en kleiner inkomste van beroepsgesondheidskontrakte.

Weens die minder handel het die ebitda amper 28% gedaal en die ebitda-marge van 21,9% tot sowat 18,4%.

Vergeleke met die vorige ses maande het die inkomste met 9% gestyg en ebitda met sowat 200%. Dit is vanweë handel wat verbeter het en strenger kostebestuur. Die winsmarge het verbeter van die 6,7% in die ses maande.

Netcare het tot nou sowat 17 000 van sy gesondheidswerkers laat inent.

Die personeel wat nie medies het nie, se koste word deur die groep gedra.

Derde vlaag

Die verskerping van die inperkings in die Paastyd het die Covid-19-gevalle wat die afgelope twee weke aangemeld is, beperk.

“Dit is bemoedigend, maar die bedryfsomgewing bly vloeibaar. ’n Terugkeer na normale vlakke van beplande operasies en ander opnames gaan steeds beïnvloed word deur die pandemie en meer spesifiek ’n moontlike derde vlaag, asook die tydsberekening en doeltreffendheid van ’n ononderbroke inentingsprogram; die doeltreffendheid van die entstowwe teen nuwe variante en hoe die inperkings plaasvind.

“As daar nie ’n derde vlaag is nie, sal dit pasiënte se sentiment verbeter en handel laat toeneem.”

Meer oor:  Netcare  |  Beplande Operasies  |  Tweede Golf  |  Handelsverslag  |  Covid-19  |  Hospitaalgroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.