Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
2de groot winkelgroep samel geld van beleggers in

Pepkor het R1,9 miljard van beleggers ingesamel om sy skuld te verminder en die onderneming vir die onsekere tye wat voorlê te beveilig.

Customers shop for garments at a Pepkor Ltd. store
Klante doen inkopies in een van Pep se winkels. Foto: Getty Images

Die maatskappy het Dinsdagaand ná die sluiting van die mark aangekondig hy beoog ’n versnelde boekbou om van sy onuitgereikte aandele aan sekere institusionele beleggers te verkoop.

Die resultaat hiervan is Woensdagoggend bekend gemaak.

Volgens Pepkor gaan die opbrengs aangewend word om sy skuldvlakke te verlaag en die maatskappy te beveilig teen huidige en toekomstige ekonomiese onsekerhede.

Dit kom sowat ’n week nadat The Foschini Group (TFG) aangekondig het hy wil R4 miljard van beleggers insamel om van sy skuld ontslae te raak en sy balansstaat teen verdere skokke te beskerm – soos moontlike verdere inperkings en handelsontwrigting weens die koronaviruspandemie.

Dit moet nog op ’n buitengewone vergadering van TFG se aandeelhouers goedgekeur word.

Pepkor het reeds in Maart op sy jaarvergadering toestemming gekry om aandele uit te reik.

Pepkor het Woensdagoggend gesê hy het 172,5 miljoen nuwe gewone aandele van die gemagtigde onuitgereikte aandele uitgereik.

“Die plasing by beleggers is ’n voorsorgmaatreël om Pepkor se finansiële buigsaamheid en likiditeitsposisie te versterk in die lig van die voortgesette koronaviruspandemie en die gevolglike ekonomiese druk.

“Benewens ander inisiatiewe om kontant te bespaar wat reeds begin is, sal dit Pepkor se likiditeit en die balansstaat se veerkragtigheid verbeter indien ’n meer negatiewe ekonomiese situasie ’n werklikheid word.”

Investec Markets sê in ’n nuusbrief die stap deur Pepkor is nie ’n verrassing nie.

Investec meen ná TFG en Pepkor se planne om hul balansstaat te versterk, sal dit interessant wees om te sien wat met Woolworths en Truworths gaan gebeur. Dié twee ondernemings het die inperking met beter balansstate binnegegaan, maar hulle sal nou moeilike besluite moet neem oor of hulle dieselfde roete gaan volg.

Pepkor het die aandele in die versnelde boekbou teen R11 per aandeel aan beleggers uitgereik. Dit behels ’n diskonto van 6,2% op die geweegde gemiddelde aandeelprys oor die voorafgaande maand.

Die aandele wat uitgereik is, verteenwoordig 4,9% van die maatskappy se uitgereikte gewone aandelekapitaal voor die plasing.

Meer oor:  Pepkor  |  The Foschini Group  |  Pep  |  Klerebedryf  |  Winkelgroep  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.