Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
2de vlaag knou dobbelplekke

Die inperkings met die tweede vlaag van Covid-19 verlede jaar het Grand Parade Investments (GPI) se casino- en dobbelbeleggings sleg getref.

GPI se belange in dobbelplekke het die grootste bydrae tot sy verlies gelewer. Foto: Unsplash

Aanvanklik kon dobbelbedrywighede teen Augustus weer met hul sake voortgaan, maar met die tweede vlaag en die gepaardgaande nuwe drankverbod en strenger aandklokreël het die remme vir die herstel in die dobbelbedryf aangeslaan.

Dit is te sien in GPI se jongste halfjaarsyfers tot einde Desember, wat hom in die rooi laat.

Die bemagtigingsgroepm wat aanvanklik ontstaan het as belegger in dobbel- en casinobates en later met sy beleggings in Burger King, Dunkin Donuts en Baskin Robbins-roomys na kits- en geriefskos gediversifiseer het, het in die halfjaar tot einde Desember vergeleke met ’n jaar gelede se wins ’n verlies gely.

GPI het intussen weer ontslae geraak van sy beleggings in Dunkin Donuts en Baskin Robbins, en is op die punt om ook sy belegging in Burger King te verkoop.

’n Verkoopooreenkoms is op 19 Februarie onderteken om Burger King vir R570 miljoen aan Emerging Capital Partners (ECP) te verkoop. ECP gaan ook Grand Foods Meat Plant vir R23 miljoen koop.

Burger King het ondanks die taai handelstoestande goed presteer en die verwagtinge oortref, skryf die groep in sy kommentaar by die halfjaarsyfers. Burger King kon binne die eerste maande nadat sy normale sake hervat is, weer by sy gewone syfers uitkom, en vir die hele halfjaar is sy inkomste 1,7% beter as ’n jaar gelede.

In syfers
  • Inkomste uit voortgesette bedrywighede was byna onveranderd op R845 miljoen.
  • Bedryfswins krimp met 49% tot R41,7 miljoen.
  • Wesensverdienste per aandeel het van ’n verdienste van 10,35c ’n jaar gelede omgeswaai na ’n verlies van 0,99c.
  • Geen tussentydse dividend is verklaar nie.

Aan die ander kant het GPI se belegging in Mac Brothers gesukkel, want baie ondernemings in die gasvryheids-, voedsel- en drankbedrywe het hul kapitaalbesteding gekanselleer of uitgestel. Mac Brothers vervaardig toerusting wat in die gasvryheids- en kosbedryf gebruik word.

Maar die dobbelbates is die ergste getref en het die grootste bydrae tot die verlies gelewer.

Die GrandWest-casino in Goodwood het in Augustus weer begin sake doen, maar die herstel was traag en is geknou toe vlak 3-inperkings weer ingestel is.

Sun Slots, wat beperkte-uitbetaal-dobbelmasjiene in plekke soos kroeë of sjebiens of dobbelsale bedryf, het wel ’n baie vinniger herstel getoon en was teen September terug by 95% van die inkomste van ’n jaar gelede.

Die totale bydrae van GPI se dobbelbates was 53% laer, met Sun Slots se bydrae wat 15% laer was.

Sun Slots kon steeds dividende van R80 miljoen aan GPI betaal, maar SunWest (wat die GrandWest-casino besit) en die Worcester-casino het geen dividende verklaar nie.

Meer oor:  Burger King  |  Grand Parade Investments  |  Gpi  |  Restaurante  |  Dobbelbedryf  |  Kitskos  |  Dobbel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.