Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
3 000 forensiese verslae oor Denel, Transnet, SAL

Die departement van openbare ondernemings het al 3 000 forensiese verslae ontvang oor beleërde staatsondernemings wat nou sal dien as fondasie vir hul herstel ná die verwoesting van staatskaping.

Pravin Gordhan
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Argief

Só het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sy begrotingsposdebat-toespraak Donderdag begin.

LEES OOK: EFF bestorm Pravin Gordhan

Gordhan sê sowat R600 miljoen is geïdentifiseer in die talle forensiese ondersoeke wat verhaal kan word.

“Maar miljarde meer is nog uitstaande,” het Gordhan gebieg.

“In die laaste 18 maande het ons al baie krisisse by staatsondernemings hanteer, en regstreeks die verwoesting van staatskaping aanskou.”

Gordhan het verwys na die beraming van Hermione Cronje, adjunkdirekteur van openbare vervolging, wat sê dat staatskaping tydens oudpres. Jacob Zuma se tweede termyn die land sowat R1 500 miljard gekos het.

“Ons het nou die proses begin om goeie regering, vaardigheidsbestuur en doeltreffende bedrywighede by staatsondernemings te herstel,” het Gordhan gesê.

Maar die finansiële posisie van dié ondernemings verg nog baie meer aandag, het hy erken.

“Verskeie ondernemings in staatsbeheer staar negatiewe kontantvloei in die gesig en hulle finansier hul bedrywighede met skuld wat toenemend moeilik word om te verkry.”

“Ons moet eerlik wees: ná ’n dekade van wanbestuur, afwesige fidusiêre aanspreeklikheid van direksies en bestuurslui vir swak prestasie, magsmisbruik wat staatskaping moontlik gemaak het, en grenslose korrupsie by ons grootste staatsondernemings, is baie in ’n geldknyp waaruit hulle waarskynlik nié hulself sal kan kry nie.”

Gordhan sê die direksies by bykans elke beleërde staatsonderneming is in 2018 reeds vervang. Die omkeer sal tyd verg.

Van die stappe wat sy departement sal neem om dieperliggende probleme aan te pak sluit in dat staatsondernemings nou onderhewig sal wees aan prestasiebeoordelings, met nuwe streng voorwaardes vir steun.

Die direksies van elke staatsonderneming sal ’n plan oor hoe hulle finansieel selfstandig gaan word aan die departement moet voorlê.

Volgens Gordhan sal sy departement oor die volgende ses tot agt maande met elkeen van die direksies van staatsondernemings werk om hul sakeplan en benadering tot hul bedrywighede te hersien.

Gordhan het terselfdertyd laat blyk dat Johannes Bekhumuzi Magwaza, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), die jongste in ’n lang ry leiers by staatsondernemings is wat bedank.

Onder andere het Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die SAL, en Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, in die afgelope twee maande bedank.

Jarana het gesê politiese inmenging was ’n groot rede hoekom hy se pos verlaat het, en Hadebe was weens frustrasie en uitputting geforseer om sy eie gesondheid eerste te stel.

Phumulo Masualle, adjunkminister van openbare ondernemings, het in sy toespraak ’n rooskleurige beeld geskep van die vooruitsigte vir die sukkelende Denel, wat nie verlede maand sy personeel se salarisse betyds kon betaal nie. Denel het ’n potensiële bestelboek van meer as R30 miljard wat hy oor die volgende 24 maande kan inwin en dit sal ’n stewige grondslag lê vir sy omdraaiplan, het Masualle gesê.

Denel het steeds ’n sterk handelsmerk in die internasionale wapentuigbedryf ondanks plaaslike probleme weens bewerings van staatskaping.

Denel kan kontant van R1,6 miljard insamel deur nie-kernbates te verkoop, het Masualle gesê.

Gordhan het nie genoem of Denel ’n reddingsboei van R2,8 miljard sal ontvang soos wat versoek is nie. Dié reddingsboei het Denel bereken is die minimum wat hy benodig om sy bedrywighede weer op koers te kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.