Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
4 vakbonde reg om SAL-pakkette te aanvaar
Vier vakbonde het aangedui dat hulle bereid is om vrywillige skeidingspakkette te aanvaar wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens bied. Foto: Twitter

Vier vakbonde en ’n onafhanklike groep wat werkers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) verteenwoordig, sê hul lede is gereed om skeidingspakkette te aanvaar.

Die departement van openbare ondernemings het Donderdag in ’n verklaring gesê Solidariteit, die National Transport Movement, die vervoerwerkersvakbond Satawu, die Aviation Union of Southern Africa en verteenwoordigers van werkers wat nie vakbondlede is nie, het laat weet hul lede is bereid om die pakkette te aanvaar.

Die pakkette kan die oomblik wat die SAL se sakereddingsplan aanvaar word, aan werknemers aangebied word.

Die lugdiens se krediteure stem op 14 Julie oor die reddingsplan.

Die departement van openbare ondernemings het reeds op 25 Junie aangekondig dat “finale” vrywillige skeidingspakkette aan werknemers van die lugdiens aangebied is.

Die pakkette bestaan uit die minimum wat die wet voorskryf – naamlik een week se vergoeding vir elke jaar gewerk – maar sal bereken word op grond van salarisse met ’n 5,9%-verhoging wat terugwerkend in werking gestel sal word. Die verhoging is in November verlede jaar beding, maar nie ingestel nie omdat die lugdiens in Desember in sakeredding geplaas is.

LEES OOK: ‘Finale pakkette’ vir SAL se werknemers aangebied

Numsa, die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) het egter reeds aangedui dat hul lede nie die pakkette sal aanvaar nie.

Die departement sê in sy verklaring dat die sakeredders na verwagting ’n hersiene sakereddingsplan op 7 Julie ter tafel gaan lê.

Die jongste aankondiging deur die departement volg kort na nóg ’n verklaring Donderdagoggend vroeg waarin die regering opnuut druk op vakbonde en krediteure plaas om die vrywillige skeidingspakkette te aanvaar en die reddingsplan te steun.

“Alle SAL-belanghebbendes wat in ’n posisie is om ’n sakereddingsplan te ondersteun of te verwerp, moet besef dat sakeredding ’n beter uitkoms as likwidasie bied.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.