Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
40 jaar oue Shoprite het oplaas 3 vroue op raad

Nadat die genoteerde Shoprite-groep in 2012 vir die eerste keer ’n vrou op sy direksie gekry het, het hy in die afgelope boekjaar nóg twee vroue aangestel.

Een van die aanstellings die afgelope jaar is prof. Shirley Zinn (58).

Zinn
Prof. Shirley Zinn is nou die nuwe leier onafhanklike direkteur nadat Edward Kieswetter, wat in die rol gedien het, bedank het toe hy aangestel is as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Zinn se lewe is al as ’n aspoestertjie-sprokie in ’n berig beskryf oor hoe sy uit armoede op die Kaapse Vlakte tot lesing- en raadsale van groot ondernemings gevorder het.

Voordat Anna Mokgokong (62) aangestel is, het die direksie van Shoprite – wat vanjaar 40 jaar oud word – net uit wit mans bestaan.

Nog ’n vrou wat vanjaar aangestel is, is Alice le Roux.

Die groep het nege direkteure waarvan drie uitvoerende direkteure is.

Christo Wiese (78), voorsitter, het in die jaarverslag gesê die groep gaan voort om sy transformasiedoelwitte op direksievlak en deur die maatskappy na te streef. “Diversiteit op direksievlak moedig konstruktiewe debat aan en verseker dat die behoeftes en bekommernisse van ons belangrikste belangegroepe aangespreek word.”

Volgens Wiese is die samestelling van die direksie in ooreenstemming met die groep se vrywillige teikens ten opsigte van ras en geslag – “met 33% van die direkteure wat nou vroue is en 44% wat swart is”.

Die teikens stem ook ooreen met die JSE se noteringsvereistes.

Mokgokong en Joseph Rock (50), wat ook in 2012, aangestel is, was die eerste nie-uitvoerende direkteure van voorheen benadeelde gemeenskappe op die direksie.

Ram Harisunker (67), wat ’n uitvoerende direkteur is, is in 2002 op die direksie aangestel.

shoprite
Die Shoprite-groep het vir die eerste keer drie vroue op sy direksie. Anna Mokgokong (vierde van regs) was in 2012 die eerste vrou op die genoteerde groep se direksie. Van links op die foto wat in die jaarverslag verskyn, is: Joseph Rock (50), Jacob Wiese (38) (wat ’n alternatiewe direkteur vir sy pa Christo is), Alice le Roux (45), Pieter Engelbrecht (50), Shirley Zinn (58), Ram Harisunker (67), Anna Mokgokong (62), Anton de Bruyn (48), Christo Wiese (78) en Johan Basson (68).

Elders in die jaarverslag word gesê die benoemingskomitee van die direksie het in 2018 die diversiteitsteikens gestel van 30% voorheen benadeelde mense, waarvan minstens 50% vroue moet wees. “Die direksie het nou die teikens bereik.”

“Terwyl nuwe kandidate vars insig en energie na hul rolle bring, verseker die langdiensdirekteure (insluitende die voorsitter) kontinuïteit en institusionele ervaring.”

Zinn is nou die nuwe leier onafhanklike direkteur nadat Edward Kieswetter, wat in die rol gedien het, bedank het toe hy aangestel is as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Wiese, wat die grootste aandeelhouer volgens stemreg is, het hom herverkiesbaar gestel as direkteur op die jaarvergadering wat begin November plaasvind. Hy is in 1991 op die direksie van die groep aangestel.

Sy het gesê nadat ander langdienendedirekteure afgetree het in 2019, het Wiese se ervaring waardevolle leiding en kontinuïteit verskaf.

In die jaarverslag is gesê die direksie het in die jaar “etiese bestuur” verseker deur die moontlikheid te bespreek om van sy dubbele aandelestruktuur weg te doen.

Die Shoprite-groep het twee tipe aandele – gewone aandele en uitgestelde aandele wat hoër stemreg het. Wiese besit die uitgestelde aandele en het saam met sy gewone aandele ’n stembelang van 42,3% in die groep.

Die direksie van die groep het Wiese vroeër vanjaar genader met ’n transaksie om dié aandeelstruktuur tot niet te maak. Die transaksie is laat vaar omdat te veel gewone aandeelhouers daarteen gekant is.

LEES OOK: ‘Buitensporige’ prys sink Shoprite se plan

Die transaksie sou daarop neerkom dat Wiese R3,3 miljard se gewone aandele kry.

Die maatskappy sê in die jaarverslag ongeag die transaksie wat deur die mat geval het, was die skakeling met aandeelhouers daaroor, baie konstruktief. Dit was so konstruktief dat ’n gevallestudie daaroor in die jaarverslag geskryf is. “Die groep en direksie het die afgelope paar jaar op meer deursigtigheid en aanspreeklikheid gefokus om korporatiewe bestuur te verbeter.

“Beleggers het ons direkte, duidelik kommunikasie waardeer. Ons, het in ruil, voordeel gekry van ’n dieper begrip oor hul kommer.”

Die jaarverslag bevestig Wiese se gewone belang in die groep was einde Junie vanjaar op 10,7%. Sy gewone aandele het die afgelope drie jaar van 16,8% tot 10,7% gedaal.

Die pensioenfonds vir staatsamptenare is nou die grootste gewone aandeelhouer.

Wiese se gewone aandele moet bo 10% bly of hy verloor al die aandele met die spesiale stemme. Netwerk24 het in Junie berig Wiese se aantal gewone aandele is baie na aan die kerf waaronder hy die spesiale stemaandele gaan verloor.

LEES OOK: Shoprite: Só na is Wiese aan dié stemreg verloor

Meer oor:  Shoprite  |  Christo Wiese  |  Edward Kieswetter  |  Shirley Zinn  |  Direksie  |  Winkelgroep  |  Diversiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.