Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
46 van I&J se visfabrieke positief; 3 in hospitaal

Die maatskappy I&J, met sy hoofkantoor en belangrikste fabrieke in Kaapstad, het bevestig 46 van sy werknemers is positief vir die koronavirussiekte getoets. Die meeste van die gevalle is by sy visfabrieke in Woodstock en Paardeneiland.

I&J se grootste en modernste visverwerkingsfabriek is by sy hoofkantoor in Woodstock, Kaapstad.Foto: Verskaf

Drie werknemers is in die hospitaal weens Covid-19.

I&J het Maandag ’n verklaring hieroor uitgereik nadat Netwerk24 navraag by hom gedoen het. Netwerk24 het ’n anonieme wenk hieroor gekry.

“Die maatskappy is in kontak met die personeel wat positief getoets is en ander personeel wat geraak word, waaronder diegene wat volgens die inperkingsregulasies in isolasie is.”

Luidens die anonieme wenk is een werknemer drie weke gelede positief getoets. Twee weke gelede en vroeg verlede week is nog mense positief getoets. Volgens die bron het I&J volgehou met sy bedrywighede en nie die voorgeskrewe maatreëls gevolg vir wanneer werknemers positief toets nie.

Netwerk24 het navrae gestuur na Jonty Jankovich-Besan, uitvoerende hoof, oor of die gevalle by die owerhede aangemeld is en of die fabriek gesluit en ontsmet is, soos wat die regulasies vereis.

Die maatskappy het nie op spesifieke navrae gereageer nie.

“Sedert die inperking het I&J sy bedrywighede aangepas met slegs noodsaaklike personeel wat op die perseel werk. ’n Aantal robuuste veiligheidsmaatreëls is by al sy bedrywighede én by die administratiewe kantore ingestel om nakoming aan die Covid-19-regulasies te verseker en die risiko vir personeel so doeltreffend moontlik te bestuur.”

Luidens die verklaring is spanne van I&J voortdurend in kontak met die departemente van gesondheid, van arbeid en van omgewing, bosbou en visserye.

Die maatskappy sê nie wanneer die maatreëls ingestel is en van wanneer af hy kontak met die staatsdepartemente het nie.

“Standaardpraktyke wat ons daagliks volg, sluit in die deeglike skoonmaak van al ons persele asook ’n siftingsproses om die risiko van oordrag te beperk en moontlike gevalle van nabye kontak deur aktiewe opsporing te identifiseer.”

Elke I&J-perseel het ’n kliniek wat 24 uur per dag, sewe dae per week oop is met ’n span gekwalifiseerde mediese dokters en verpleërs wat in diens van die maatskappy is.

Kwarantyngeriewe is ook beskikbaar gestel.

“Die departement van gesondheid het positiewe terugvoer gegee oor die spesifieke prosedures en praktyke wat I&J tot dusver toegepas het. As ’n noodsaaklike voedselprodusent sal I&J voortgaan om sy verpligting om in bedryf te bly, te balanseer met die gesondheid en welsyn van sy personeel.”

Die maatskappy het nie gereageer op die vraag of hy sy bedrywighede tydelik moes staak nie.

I&J behoort aan die genoteerde maatskappy AVI.

Meer oor:  Avi  |  Kaapstad  |  Wes-Kaap  |  Woodstock  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.