Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
50 000 klerewerkers só vergoed tydens inperking

Sowat 50 000 klerewerkers in die land kan rustiger slaap nadat die nasionale bedingingsraad vir die klerevervaardigingsektor gou gespring het om ’n ooreenkoms te bereik oor hoe dié werkers te midde van die 21-dae-inperking vergoed gaan word.

Ingevolge 'n nuwe ooreenkoms sal klerewerkers deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en hul werkgewers tydens die staat van inperking vergoed kan word. Foto: Reuters

Die klerewerkersvakbond Sactwu sê in ’n verklaring dié “baanbrekersooreenkoms” is Maandagaand laat vir die Covid-19-inperking bekragtig.

“Die ooreenkoms is gesluit in die vaste oortuiging dat alle Suid-Afrikaners en die organisasies waarvan hulle lede is nie net op die regering moet staatmaak tydens hierdie nasionale krisis nie.

“Almal moet hul eie ondersteuningsprogramme probeer ontwikkel waartoe ’n bydra gelewer kan word.”

Volgens Johann Baard van die South African Apparel Association geld die ooreenkoms, waarvolgens die werknemers se volle betaling gewaarborg is, vir ses weke. Partye in die bedingingsraad het reeds hieroor begin onderhandel voordat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand gesê het die inperkingstydperk is 21 dae. Indien die 21 dae later verleng word, is daar dus nou reeds daarvoor voorsiening gemaak.

Indien die 21 dae voldoende is om die koronavirus se verspreiding te keer, moet die klerewerkers terugkeer werk toe. Indien dit egter verleng word, is nog drie weke reeds gedek.

So werk dit

Ingevolge die ooreenkoms sal die werkers deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en hul werkgewers vergoed word. Sommige weke sal die werkgewers die vergoeding uitbetaal, en ander weke sal die WVF dit doen.

Baard sê hulle het ’n unieke ooreenkoms met die WVF waarvolgens die bedingingsraad ’n toegewyde rekening skep waarin die fonds een betaling kan maak.

Werkgewers moet al hul werknemers se besonderhede ten opsigte van betaling aan die bedingingsraad gee. “Dit maak die administrasie vir die WVF baie makliker omdat hy net een betaling hoef te doen.”

’n Loodsprojek word Dinsdag met een van die fabrieke gedoen om te bepaal hoe die eise ingedien moet word.

Die bedingingsraad kan ook eise bevestig omdat hy reeds rekords hou van elke pos in die klerebedryf, sê Baard. Werkers dra elke maand tot die bedingingsraad se voorsorg- en gesondheidsorgfonds by.

’n Taakspan is vir die klerebedryf in die lewe geroep om die praktiese implikasies van die inperking te bestuur.

Die ooreenkoms is aan die departement van arbeid gestuur om dit dringend in die Staatskoerant te publiseer en dit uit te brei na partye wat nie lede van die bedingingsraad is nie.

“Ons besef dit is dalk nie ’n perfekte ooreenkoms nie, maar ons doen ons bes,” lui Sactwu se verklaring.

Volgens Baard probeer Sactwu die ooreenkoms na ander subsektore soos tekstiel, leer en skoene uitbrei.

Sowat 80 000 werkers sal baat vind by sekere dele van die ooreenkoms, soos by Sactwu se gesondheidsorg-infrastruktuur en klinieke.

Baard sê daar is “ongetwyfeld groot kommer onder werkgewers oor wat die impak van die inperking gaan wees”.

“Ons sal ná die 21-dae-tydperk bestek moet neem oor die impak en watter maatreëls nodig gaan wees om te help om die skade in geheel of gedeeltelik te herstel.”

Hy sê hulle is in gesprek met klerewinkelgroepe hieroor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.