Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
66% van Tongaat behoort aan jou en my

Te midde van die suikergroep Tongaat Hulett se aandeelverhandeling wat Maandag op die JSE op sy eie versoek opgeskort is, word vrae opnuut gevra oor die rol en reputasie van ouditeure, en of die jongste debakel met die Steinhoff-skandaal vergelyk kan word.

 suiker
Tongaat Hulett se vlagskipprodukte is wit en bruin suiker wat onder die Huletts-handelsmerk verkoop word.

Dit lyk weer eens asof gewone mense wie se aftreegeld in Tongaat belê is, aan die kortste ent kan trek.

Byna 66% van Tongaat se aandelekapitaal behoort aan beleggings- en pensioenfondse, blyk uit sy 2018-jaarverslag. Dit bestaan uit 28,42% wat deur pensioenfondse gehou word en 37,55% deur beleggingsfondse. Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), die staat se batebestuurder wat onderwysers, polisielede en ander staatsamptenare se aftreegeld bestuur, is die grootste enkele aandeelhouer in Tongaat met ’n belang van 14,24%.

Die beleggings- en pensioenfondse se belegging in Tongaat het oor die afgelope maande al sowat R6,8 miljard se waarde verloor op grond van Tongaat se aandeelprys wat van ’n hoogtepunt van R90 in Augustus 2018 tot R13,21 gedaal het.

Gavin Hudson, uitvoerende hoof van Tongaat, het intussen Dinsdag gesê die opskorting van sy aandeleverhandeling raak nie die dag-tot-dag bedrywighede nie en Tongaat is steeds ’n lopende saak. ’n Subkomitee van die Tongaat-direksie is gestig om te help met sy omdraaipoging en om die uitvoerende bestuur te ondersteun, het Hudson gesê.

Op Twitter vaar beleggers uit teen die ouditeursgroep Deloitte wat 15 jaar lank die eksterne ouditeurs van Tongaat is.

Deloitte se werk by Tongaat word nou forensies deur sy mededinger PwC ondersoek.

Meer oor Tongaat Hulett
  • Tongaat Hulett het ’n ryk geskiedenis. Die Huletts-suikermaatskappy het in die 1850’s ontstaan, en die Tongaat-groep in 1875.

  • Later het die twee saamgesmelt. Dit is een van die oudste genoteerde maatskappye op die JSE, en is in 1952 op die JSE genoteer.
  • Anglo American was jare lank die meerderheidsaandeelhouer, en het sy belang eers in 2009 verkoop.
  • Die groep se eiendomsbedrywighede het ontstaan omdat hy duisende hektaar suikerrietplantasies gehad het wat hy stelselmatig in eiendomsontwikkelings omgeskep het namate die stedelike gebiede in Durban en al langs die KwaZulu-Natalse kus noordwaarts van Durban uitgebrei het.
  • Sy wins uit eiendomsontwikkelings het oor die afgelope paar jare ’n toenemend belangriker bydrae tot sy winssyfers gelewer as diversifisering te midde van ’n al hoe mededingender, moeiliker en klimaat-afhanklike suikerproduksie-afdeling.
  • Die 2018-jaarverslag wys sy eiendomsbedrywighede het ’n bedryfswins van R661 miljoen gelewer, wat 33,7% van sy totale bedryfswins was, teenoor die suikerbedrywighede se 42,7%. (Dié syfers is egter nou onder verdenking.)
  • Die 2017-syfers wys Tongaat het toe 27,4% van sy bedryfswins uit eiendom behaal, en 54,4% uit suiker.

Deloitte was ook die ouditfirma wat die boeke van die internasionale meubelhandelaar Steinhoff gedoen het. Terwyl daar tekens van wesenlike bedrog by Steinhoff vermoed word, meen die ontleder Wayne McCurrie van FNB Wealth and Investments dis nog te vroeg om te sê Tongaat is ’n nuwe Steinhoff, want geen bewyse van bedrog is al opgediep nie.

Hy het aan Business Insider verduidelik wat by Tongaat gebeur het, is dat sy eiendomsbates se waardes te hoog aangegee is omdat dit ook die ontwikkelingskoste in ag geneem het.

McCurrie meen die insinking in die ekonomie en die inkrimping van eiendomspryse het tot die moontlik oordrewe waardasies by Tongaat se eiendomsbates gelei.

Gavin Hudson
John Gavin Hudson (49), nuwe uitvoerende hoof van Tongaat.

Die ontwikkeling van eiendomspersele is ’n duur oefening met baie voorafkoste wat dikwels met geleende geld gedoen word. “Die belegging wat Tongaat in sy eiendomsbates gedoen het is nie werd wat hulle daarop bestee het nie, gevolglik moet hulle nou die belegging afwaarts herwaardeer,” het hy aan Business Insider gesê.

Tongaat het gewaarsku hy sal sy balansstaat met tussen R3,5 miljard en R4,5 miljard afwaarts moet aanpas weens die oorwaardering van die bates.

Maar beleggers op Twitter is woedend en beskryf die nuwe debakel as witboordjiemisdaad, met gewone mense se pensioengeld wat in gedrang is. Hulle wys vingers na die direksie van Tongaat, asook na die interne ouditeurs – wat die ouditgroep KPMG was.

KPMG is self in ’n stryd om sy reputasie te herstel ná omstrede transaksies waarby hy betrokke was, onder meer by maatskappye verbind aan die omstrede Gupta-familie wat by staatskaping betrek word.

Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Kpmg  |  Tongaat  |  Pwc  |  Gavin Hudson  |  Openbare Beleggingskorporasie  |  Ouditeure  |  Obk  |  Pensioenfondse  |  Beleggingsfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.