Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
7 maer jare geld nie die mark vir sportmotors

Terwyl die res van die land reeds voor Covid-19 hul rieme dun gesny het wanneer dit kom by motor-aankope, was diegene wat sportmotors kon bekostig allermins spaarsamig.

Lamborghini se Urus, sy eerste sportnutsvoertuig. 41 van hulle het verlede jaar hier nuwe eienaars gekry.

Verkope van nuwe motors het volgens Naamsa, die vereniging vir motorinvoerders en -verspreiders, verlede jaar met 2,8% afgeneem tot 536 626.

Maar as dit by sportmotors kom, het die sewe maer jare nog nie aangebreek nie.

Lamborghini het byvoorbeeld verlede jaar 59 van sy aggressiewe sportmotors, wat elk ’n hele paar miljoen rand kos, in Suid-Afrika van die hand gesit.

Sy verkope is gestu deur die bekendstelling van sy eerste sportnutsvoertuig, die Urus, wat sowat R4 miljoen kos. En as dít nie die haartjies onder jou TAG Heuer laat regop staan nie, kan jy altyd die vlagskip, die Lamborghini Aventador, se afslaankapweergawe oorweeg. Hy kos ver aan die verkeerde kant van R8 miljoen.

Ander vervaardigers wat hier om dié bloulint-mark meeding is: Bentley (met ’n verkoopsyfer vir 2019 van 69); Ferrari (69); en Maserati (82).

Daar is ook 305 nuwe Suid-Afrikaanse eienaars van Ford se Mustang, die enigste noemenswaardige nie-Europese sportmotor wat wêreldwyd goed verkoop.

Die wegholvoorloper in die plaaslike mark is egter Porsche, wat verlede jaar 1 496 motors hier verkoop het. Dit het 22% van die Duitse vervaardiger se verkope in Afrika en die Midde-Ooste uitgemaak.

Porsche het ook ondervind dat sportnutsvoertuie hierdie marksegment gestimuleer het: Sy twee topverkopers wêreldwyd, en hier, is die Macan en die Cayenne.

Sy internasionale verkope het met 11% gestyg.

Porsche se nuwe Cayenne Turbo Coupé. Hy kos sowat R2,3 miljoen.

Dit maak sin, aangesien Porsches veel meer bekostigbaar is as die opposisie se rubbervreters en omdat hulle Jan en alleman se sportmotor is. Die meeste bestuur verrassend maklik en kan elke dag gebruik word.

Volgens Christo Kruger, die maatskappy se plaaslike woordvoerder, is daar nie ’n “tipiese koper” nie omdat hul groot verskeidenheid modelle motors insluit van “goedkoper as ’n miljoen tot sowat R5 miljoen”.

“ ’n Miljoen is deesdae nie baie vir ’n motor nie,” sê hy – want sportmotoreienaars kry baie waarde en nuwe tegnologie vir hul geld.

Hoeveel van hulle betaal met ’n tjekboek vir die nuwe speelding?

“Betalings word steeds op al die moontlike tradisionele maniere gedoen,” sê Kruger.

Sommige klante laat dit wel finansier, maar ander doen dit per elektroniese oorplasing. Tegnies betaal hulle dan kontant, maar dit is onmoontlik om te weet hoe hulle daardie kontant “bekom het”, sê hy. “Hulle finansier dit moontlik op ’n ander manier. Deur byvoorbeeld ’n verband te gebruik op ’n eiendom wat afbetaal is.”

Daar is ook ’n lewendige mark vir tweedehandse Porsches omdat hulle hul waarde goed behou en die plaaslike verspreider ingeruilde motors waarborg.

“Maar,” voeg hy by, “daar kom minder motors in as nuwe motors wat verkoop word. Baie eienaars het ’n emosionele band met hul ou Porsche en hou dit as hulle ’n nuwe een koop.”

Daar is waarskynlik talle redes vir die aankoop van ’n sportmotor, maar die hoofrede is nie om ’n goeie belegging te maak nie. Uiteindelik bly dit ’n emosionele besluit.

Lamborghini is sommer op die man af oor die saak.

Hulle praat só van hul Aventador S in bemarkingsmateriaal: “ ’n Weergalose bestuurservaring vir almal wat hulde wil bring aan hul ego’s deur hulself elke dag uit te daag.”

Maar kopers moenie hul kredietkaarte te gou bêre nie.

As jou motor meer krag na die twee agterbande stuur as die munisipaliteit se laaste lopende trekker, beteken dit ook hy is genadeloos as dit by bandslytasie kom.

Sportmotorbande is hoogs gespesialiseerd en moet hoë snelhede en temperature kan deurstaan. Hulle is gevolglik nie goedkoop nie en boonop van sagte rubber vervaardig wat beteken hulle het ’n meer beperkte leeftyd as ’n gewone sedan s’n.

Kom ons vat weer Porsche se gewilde Cayenne.

Hy sal Pirelli’s vir die Cayenne Coupé aanbeveel, sê Johan Lock, bestuurder van Tyremart Hatfield in Pretoria.

“275/45 20R’s voor en 305/40 20’s agter.” (Moet jou nie veel steur aan dié kodes nie. Dit beteken basies hulle is net so breed soos die gemiddelde provinsiale teerpad in Noordwes, net met minder gate.)

Ingevoerde Pirelli’s in daardie grootte kos onderskeidelik sowat R4 000 en R5 600 elk. Vir ’n volle stel nuwe bande gaan jy dus byna R20 000 moet hoes. Die balanseergewiggies is wel gratis.

Met die petrolprys wat na verwagting in April met tot R2 per liter kan daal, is al wat tussen die eienaars van daardie afbetaalde sportmotors en die grootpad staan die feit dat ons almal weens Covid-19 gehok is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.