Die Suid-Afrikaanse filiaal van die bierreus Heineken gaan 70 mense aflê en ook sy nuwe beleggings op ys plaas weens die voortslepende verbod op drankverkope.

Heineken se afleggings kom te midde van die voortslepende verbod op drankverkope. Foto: Shutterstock
Die verbod is einde Desember onverwags heringestel en op 15 Januarie onbepaald verleng.
Heineken het net minder as 1 000 voltydse personeellede in Suid-Afrika.
Die drankbedryf sê meer as 165 000 mense het hul werk in die bedryf verloor sedert die inperkings einde Maart begin het.
Heineken sê in ’n verklaring die herstrukturering spruit uit die voortgesette druk in die mark, terwyl sy Nederlandse moedermaatskappy ook sy internasionale bedrywighede hersien.
“Voordat die maatskappy dié stap oorweeg het, is verskeie kostebesparingsmaatreëls in 2020 ingestel,” sê Yvonne Mosadi, direkteur van mensehulpbronne van Heineken.
“Ongelukkig is die maatreëls nie meer voldoende om die bedryfskoste te bestuur nie.”
Die vervaardiger van Windhoek en Amstel sê hy gaan sy koste- en organisasiestruktuur verder hersien om te verseker dat dit geskik is vir die toekomstige behoeftes van die onderneming, veral gedurende die huidige onstuimige tydperk.
Heineken het in Augustus sy planne laat vaar om ’n brouery van R6 miljard in KwaZulu-Natal te bou ná die tweede verbod op drankverkope.
Die biermaatskappy sê nou nog nuwe beleggings gaan op ys geplaas word.
Dit kom nadat die SAB Vrydag bekend gemaak het hy het nog R2,5 miljard se kapitaalbesteding vir die jaar gekanselleer. – Reuters