Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
777-9 styg op, maar kan dié straler Boeing red?
As the Olympic Mountains loom in the distance, the
Die Boeing 777-9, die eerste van die 777X-familie, styg in Washington op vir sy nooiensvlug. Foto: AP

Boeing se jongste vliegtuig, die 777-9 – so groot dat sy vlerke skarniere het – het uiteindelik opgestyg in die lug bo die Washingtonse fabriek wat ’n halfeeu gelede gebou is vir die vervaardiging van die oorspronklike makrostraler.

Ná vertragings weens sterk wind het die superstraler Saterdagoggend in Washington opgestyg en byna vier uur later geland.

Eerste vlugte is gewoonlik ’n viering van tegnologiese prestasie vir vliegtuigvervaardigers – die uiteinde van jare van innovasie en probleemoplossing. Dié vlug kom egter terwyl ’n wolk van onsekerheid oor Boeing hang.

Kitsfeite oor die 777-9
  • Die 777-9 is die wêreld se grootste twee-enjin-straler.
  • Die vliegtuig is byna 77 m lank.
  • Die vlerke is 71,75 m lank.
  • Die vlerkpunte van nagenoeg 3,4 m lank kan opwaarts vou ná landing.
  • Die vliegtuig kan tot 426 passasiers vervoer.

Bron: Wikipedia

Die 777-9 is Boeing se eerste nuwe model sedert twee noodlottige neerstortings daartoe gelei het dat die 737 Max wêreldwyd gehok is. Die maatskappy probeer hard om sy reputasie vir veiligheid en tegniese vaardigheid te herstel, en reguleerders, lugdienste en beleggers sal die nuwe vliegtuig fyn dophou.

Benewens die vrae oor veiligheid, is daar kommer dat die straler doodeenvoudig te groot is vir lugdienste. Die 777-9 is langer as Boeing se ikoniese boggelrug-747. Dis die eerste twee-enjin-straler wat gebou is om ’n soortgelyke aantal passasiers as sy vierenjin-boetie te vervoer, naamlik 426.

Dis ook die maatskappy se duurste vliegtuie teen $442,2 miljoen voor die gebruiklike afslag.

Verkope het egter vasgeval sedert ’n aanvanklike vlaag bestellings nadat die 777X in 2013 op Dubai se lugskou bekend gestel is. Die verwagte bestellings uit China het nie gerealiseer nie in die lig van die handelspanning tussen dié land en die VSA.

George Ferguson, ’n lugvaartontleder by Bloomberg Intelligence, sê die vliegtuig is te groot vir die meeste markte en die meeste lugdienste.

Die 777-9, die eerste model in die 777X-familie, styg op in ’n onstuimige mark vir lugvaart se reuse soos wat die vierenjin-stralers wat hulle moet vervang, verouder.

Airbus bou nou die laaste van sy A380-dubbeldek-stralers, terwyl die toekoms van Boeing se 747’s in die weegskaal is, met net 17 bestellings wat nog voltooi moet word en ’n belangrike verskaffer wat produksie staak.

Vlieënier sê

“Dit was ongelooflik,” was die woorde van Van Chaney, Boeing se hooftoetsvlieënier, ná die nooiensvlug met die 777-9, berig GeekWire.

Chaney het op ’n nuuskonferensie gesê hy sou langer in die lug wou bly as hy kon. “Die oomblik toe ons opstyg en in die lug kom, het ek gedink: ‘Man, dis ongelooflik.’”

Emirates het 115 uit die 340 bestellings vir die 777X, wat meer as die helfte van Boeing se totale agterstand verteenwoordig. Dié langastandlugdiens is ook die grootste kliënt van Airbus se makrostraler.

Maar daar is geen waarborg dat lugdienste die A380 gaan vervang met 777X-vliegtuie nie. Die neiging is tans om groot, besige lugdienste te vermy danksy kleiner stralers wat langer afstande kan vlieg.

“Die meeste lugdienste met wie ons werk, stel nie daarin belang om vierenjin-stralers met die grootste twee-enjin- wyerompstralers te vervang nie,” sê Steven Udvar-Hazy, voorsitter en stigter van Air Lease. “Die tendens is eintlik andersom.”

Daar is nou groter belangstelling in kleiner vliegtuie soos Boeing se 787 en Airbus se A350.

boeing 777-9
Die Boeing 777-9 se vlerke vou opwaarts om te verseker hy kry staanplek op lughawens. Foto: Reuters

Die mark kan dalk van plan verander soos wat die 777X sy vermoë bewys. Dis ’n duur vliegtuig, sê Udvar-Hazy, en daarom sal lugdienste eers wag en kyk hoe dit vaar voordat hulle bestellings plaas.

Die opmerklikste eienskap van die vliegtuig is sy saamgestelde vlerke, die langste wat Boeing al gebou het met ’n vlerkspan van 71,75 m wanneer dit heeltemal reguit is. Skarniere draai die gevormde vlerkpunt lugwaarts vir makliker beweging op besige lughawens.

Hoewel dié ontwerp nou vir die eerste keer vir kommersiële stralers gebruik word, steun dit op konsepte wat al omtrent ’n eeu vir militêre vliegtuie gebruik word, sê Mike Lombardi, Boeing se korporatiewe geskiedkundige en argivaris. Die maatskappy se F/A-18 Hornet vou byvoorbeeld ook sy vlerke om ruimte op vliegdekskepe te bespaar.

“Dis ’n beproefde tegnologie,” sê Lombardi.

Oor die 737 Max

Twee Boeing 737 Max-vliegtuie het binne vyf maande van mekaar neergestort – een in Indonesië in Oktober 2018 en een in Ethiopië in Maart 2019. Altesaam 346 mense is in die twee rampe dood.

Die rampe is daaraan toegeskryf dat die Max se nuwe Maneuvering Characteristics Augmentation System (MCAS) die vliegtuig onder sekere omstandighede laat duik het. Vlughandleidings en opleiding van bemanningslede het dit nie ingesluit nie, volgens Wikipedia.

Boeing is steeds onderhewig aan hofsake deur familielede en ondersoeke deur lugvaartowerhede, maar die VSA se Federale Lugvaartowerheid (FAA) het aangedui dat die 737 Max weer teen middel 2020 sal kan vlieg, berig CNN.

Suid-Afrika se Comair, wat Kulula en British Airways bedryf, het twee Boeing 737 Max 8-vliegtuie bestel, waarvan een verlede jaar afgelewer is. Toe die vliegtuig gehok is, moes die lugdiens bontstaan om ander vliegtuie te huur. Die totale koste vir Comair, wat verlore inkomste, rente op die lening en die huur van ander vliegtuie insluit, was teen September verlede jaar reeds R195 miljoen.

Meer oor:  Airbus  |  Boeing  |  Vliegtuie  |  Boeing 737 Max  |  Straler  |  Lugdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.