Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
8 lugdienste bring ‘onwettiges’ na SA

Verskeie lugdienster skuld die departement van binnelandse sake miljoene rande aan onbetaalde boetes omdat hulle buitelanders onwettig die land in bring.

Joe McGluwa, die DA se woordvoerder oor binnelandse sake.

Lugdienste is die afgelope twee jaar met meer as R31 miljoen beboet, het dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, geantwoord op ’n parlementêre vraag van Joe McGluwa, die DA se woordvoerder oor dié portefeulje.

Ondanks die feit dat agt lugdienste in 2016-’17 gelas is om R8,8 miljoen op te dok, het hulle nie betaal nie en op ’n groter skaal oortree, met boetes wat in die daaropvolgende boekjaar R22,6 miljoen beloop het.

Emirates, met boetes van onderskeidelik R2,67 miljoen en R6,96 miljoen, is boaan die lys oortreders, met die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) tweede, met boetes van R2,16 miljoen en R4,44 miljoen. Die ander skuldiges is Ethiopian Airlines (R1,7 miljoen en R4,1 miljoen), Kenya Airways (R390 000 en R2,34 miljoen), British Airways (R975 000 en R1,35 miljoen), Qatar Airways (R435 000 en R1,34 miljoen), Rwandair (R225 000 en R1,26 miljoen) en Etihad (R285 000 en R825 000).

Die boetes word gehef wanneer rederye passasiers sonder geldige dokumente die land inbring.

“Binnelandse sake moet die mense dan aanhou, van tydelike dokumente voorsien en in sommige gevalle met huurvlugte terugstuur. Dit kos miljoene,” sê McGluwa.

Die kwessie van onwettige immigrante is in die kollig ná geweldpleging waartydens sakeondernemings van immigrante geplunder is, honderde mense vir hul lewe moes vlug en minstens twee buitelanders vermoor is.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het Dinsdag in die parlement gesê die regering weet nie hoeveel onwettige immigrante in die land is nie, maar dat 10 000 onwettige immigrante in die eerste ses maande van die jaar gedeporteer is.

Die Immigrasiewet van 2002 bepaal dat niemand die land sonder ’n paspoort mag binnekom nie. Ongedokumenteerde immigrante mag sonder ’n lasbrief in hegtenis geneem word.

Sakeondernemings mag ook nie onwettige immigrante in diens neem nie.

Tog het die kabinetsgroep vir justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid die afgelope week gesê 1 048 werkgewers is in die halfjaar beboet omdat hulle ongedokumenteerde immigrante in diens geneem het, het Daily Maverick berig. Immigrasiewette verbied dit ook om enige bystand benewens humanitêre hulp aan so iemand te bied.

Skattings oor hoeveel immigrante in Suid-Afrika woon, wissel van 2,1 miljoen volgens die 2011-sensus tot 3,1 miljoen volgens die Verenigde Nasies (2015). Luidens die 1996-sensus was daar kort ná die einde van apartheid slegs sowat 830 000 immigrante in Suid-Afrika. Die meeste immigrante (1,48 miljoen) kom van lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en nog sowat 160 000 uit die res van Afrika, wys die 2011-sensussyfers.

Immigrante uit Brittanje het 177 192 beloop en 102 437 was van Asië. Die meeste is Zimbabwiërs (31%), met 18% Mosambiekers, 7,4% uit Lesotho en 4% Malawiërs.

In ’n artikel oor xenofobiese aanvalle hetThe New York Times in 2015 beweer daar is sowat 5 miljoen buitelanders in Suid-Afrika. Reuters gebruik dieselfde getal en die BBC skat tot 5 miljoen.

Wetgewing laat wel toe dat Suid-Afrika visums toestaan aan immigrante met skaars vaardighede, maar immigrasieprokureurs kla dat honderde hoogs geskoolde immigrante elke jaar sonder enige rede dié visums geweier word.

Die lys van skaars vaardighede is boonop erg gebrekkig en die bestaande lys, wat op 3 Junie 2014 in die Staatskoerant gepubliseer is, beslaan 12 bladsye. Dit sluit in landbou-ingenieurs en -tegnici, argitekte, stads-en-streekbeplanners, eksterne ouditeure, aktuarisse, alle soort ingenieurs en medici.

Die departement van hoër onderwys stel tans ’n nuwe lys van kritieke vaardighede op, maar Peter Bruce, voormalige redakteur van Business Day, was in Maart erg krities oor ’n konsep wat hy onder oë gehad het. Ondanks die land se breinerosie is die voorgestelde nuwe lys baie korter en is landbouvaardighede van die nuwe lys afgehaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.