Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
9 uit 10 gewildste voertuie in SA hier gemaak

Suid-Afrikaanse motoriste het die grootste keuse van passasiersvoertuie wêreldwyd in verhouding tot sy markgrootte, en dit lei tot groot mededinging in die mark vir nuwe voertuie, sê die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa).

Suid-Afrikaners kon verlede jaar aan die passasierskant uit 49 handelsmerke en 3 716 modelvariasies kies, sê dr. Norman Lamprecht, uitvoerende bestuurder van Naamsa en van die motorbedryf-uitvoerraad (AIEC).

Wat bakkies betref, kon hulle kies uit 30 handelsmerke en 656 modelvariasies.

Ligte handelsvoertuie bly baie gewild in Suid-Afrika. Die Toyota Hilux is 2018 se topverkoper met 40 022 eenhede, gevolg deur die Ford Ranger (30 135 eenhede). Dan volg die Volkswagen Polo Vivo, die gewildste passasiersmotor, waarvan 26 514 eenhede verlede jaar verkoop is, skryf Lamprecht in die 2019-uitgawe van die AIEC se uitvoerhandleiding.

Einde 2018 het Suid-Afrika 12,46 miljoen geregistreerde voertuie gehad. Daarvan was 7,34 miljoen (of 58,9%) passasiersmotors. In 2017 was daar 12,2 miljoen geregistreerde voertuie.

Voertuigeienaarskap in Suid-Afrika is 176 voertuie per 1 000 van die bevolking, teenoor 821 in Amerika en 718 in Australië. Die wêreldgemiddeld is sowat 182 per 1 000 mense.

Toyota was verlede jaar vir die 39ste jaar agtereenvolgend die voorste voertuignaam in Suid-Afrika met ’n markaandeel van 24,2%, gevolg deur die Volkswagen-groep en Ford.

Vir die agtste agtereenvolgende jaar was Volkswagen die markleier vir passasiersmotors met die Polo Vivo en Polo die twee beste verkopers.

Lamprecht sê nege uit die tien beste verkopers in die plaaslike voertuigmark word in Suid-Afrika gebou. Die enigste uitsondering is die Hyundai Grand i10, wat van Indië ingevoer word.

Onder die tien gewildste modelle wat verkoop is, is vyf ligte handelsvoertuie – Toyota Hilux, Ford Ranger, Nissan NP200, Toyota Quantum, en die Isuzu KB/D-Max – en vyf passasiersmotors, naamlik VW Polo Vivo, VW Polo, Toyota Fortuner, Hyundai Grand i10 en Toyota Corolla Quest.

Volgens Lamprecht vervaardig elke voertuigvervaardiger slegs een of twee modelle in Suid-Afrika, en in sommige gevalle word meer as 90% van die plaaslike produksie uitgevoer om hoër volumes en ekonomiese skaalvoordele te genereer.

Modelle met lae verkoopsvolumes wat nie hier vervaardig word nie, word ingevoer om die motorvervaardigers se modelmengsels in die plaaslike mark aan te vul vir die beste bemarkingskombinasie.

Wat invoer van voertuie in 2018 betref, was Indië die grootste land van oorsprong van waar 98 586, of 33,8%, van alle passasiers- en ligte handelsvoertuie ingevoer is. Indië se vervaardigingsprofiel is geskik vir groot volumes intreevlak- en kleinsegment-voertuigmodelle, soos die Hyundai Grand i10.

Die Polo Vivo is die enigste van dié kleinsegment-modelle wat in Suid-Afrika vervaardig word.

Hoewel plaaslike verkope van nuwe voertuie tot dusver vanjaar traag was, is Naamsa aangenaam verras met die styging van 0,7% in verkope in April teenoor ’n jaar gelede. Dit is die eerste keer vanjaar dat verkope op ’n jaargrondslag gestyg het.

Meer oor:  Toyota  |  Naamsa  |  Volkswagen  |  Hyundai  |  Motorverkoopsyfers  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Toyota Hilux  |  Motorvervaardiging  |  Motorverkope  |  Polo Vivo  |  Hilux  |  Polo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.