Byna 90% van Suid-Afrika se geliefde mikrobrouerye gaan dalk nie die derde verbod op drankverkope oorleef nie.
’n Peiling wat die Craft Brewers Association of South Africa (CBASA) gedoen het, wys dat 87,5%, oftewel sewe uit agt, van sy lede op die punt staan om hul deure permanent te sluit.
Ander syfers sluit in:
- Byna twee uit drie (60,3%) het reeds mense afgelê.
- 77,8% sukkel om huur, verskaffers en werknemers te betaal.
- Byna die helfte, 41,3%, sal binnekort voorraad moet vernietig wat hulle vir die vakansietyd gebrou het en wat binnekort verval.
Die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa), waaraan CBASA ook behoort, sê dis nou dringend dat die volslae verbod op drankverkope omgekeer word.

Mikrobrouerye, oftewel sogenaamde craft brewers, sal binnekort honderde liters bier in die drein moet afgooi as dit verval voordat die verbod op drankverkope opgehef word.
Die gebrek aan regeringshulp vir die bedryf, tesame met die doodse stilte oor wanneer die verbod tot ’n einde gaan kom, is die doodskoot vir klein brouerye, ondanks hul pogings om aan die gang te bly.
Daar was selfs mikrobrouery wat hul fabrieke in sopkombuise omgeskep het toe hulle nie self kon sake doen nie, en het na raming 2,9 miljoen maaltye verskaf tydens die strengste inperkingstyd in April verlede jaar.
Nou is daar baie wat nie weet waar hulle self geld vir kos in die hande gaan kry nie.
Basa sê in sy verklaring mikrobrouerye verdrink in skuld.
Meer as 30% van hulle het reeds hul deure permanent gesluit, waardeur 165 000 mense hul werk verloor het.
Basa het onlangs ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa en Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, geskryf om te pleit vir dringende gesprekvoering. Die vereniging sê hy het tot dusver slegs kennis van ontvangs gekry.
Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), een van Basa se lede, het ook ’n hofaansoek gebring om die drankverbod te laat ophef.
“Die bedryf vereis duidelikheid oor wanneer die verbod opgehef gaan word. Sonder dié inligting kan mikrobrouerye nie die impak van die verbod versag en beplan om hul ondernemings te herbou nie.
“Indien die verbod binnekort opgehef word, kan sommige ondernemings en poste nog gered word, aangesien hulle minstens voorraad kan verkoop voordat die vervaldatum bereik word.
LEES OOK: Drankbedryf: ‘Sê tog net wanneer
verbod eindig’
“Ons doen ’n beroep op die regering om dié lewensbestaan te red op ’n manier wat nie lewens in gevaar stel nie.”
Onder die bedryf se voorstelle wat hy glo mense steeds teen die verspreiding van Covid-19 sal beskerm en nie druk op hospitale sal verhoog nie, is:
- Drankverkope vir tuisverbruik kan toegelaat word sodat mense minstens ’n bier in die veiligheid van hul eie huis kan geniet sonder die risiko’s wat samedrommings by kroeë en sjebiens meebring.
- Daar is baie aanlyn platforms vir aflewering of klik-en-betaal waardeur mense samedrommings in winkels vir drankverkope kan vermy.
- Basa onderneem om geen voorraad te verskaf aan enige verkoopspunte wat Covid-19-regulasies oortree nie.
Die vereniging sê die besluit van die SAB om die kontrakte van 550 deeltydse werknemers op te skort maak dit duidelik dat die nood groot is. “Die regering moet sy stilte beëindig en met die drankbedryf in gesprek tree, met kristalhelderheid, as ons herstel in die bierbedryf wil sien.
“Ons moet weet wanneer die verbod opgehef gaan word, en ons het die versekering nodig – op die heel minste – dat die verbod op verkope vir tuisverbruik binnekort opgehef sal word.”