Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Verwarring oor OneLaw
Cambist-kraantjie droog vir beleggers op
Vrae oor R1 miljard se beleggersgeld by Aldum-sakeryk
So steek hulle inmekaar

OneLaw het sy oorsprong in ’n groep maatskappye wat opgebou is uit ’n mikroleningsonderneming wat Corné Aldum sowat 20 jaar gelede in Newcastle begin het.

Dié groep maatskappye se moedermaatskappy het sowat drie jaar gelede as Onesys bekend gestaan.

Dit is later in drie dele onderverdeel naamlik ’n mikroleningsonderneming Bridge; OneLaw, wat skuldinvordering doen, en ’n derde deel wat versekeringspolisse verkoop.

OneLaw was voorheen Onetrace wat net opsporing van skuldenaars gedoen het en toe ontwikkel het in ’n diensverskaffer vir prokureurs. Cambist is in 2012 deur OneLaw begin.

Emile (Samuel James) Aldum, Corné Aldum se seun, is die uitvoerende hoof van Bridge wat in September in sakeredding geplaas is.

Hy was voorheen ’n direkteur van Onesys.

Mense wat wil probeer geld maak uit ander se skuld, sal “vir eers” dit nie langer op Cambist se elektroniese platform kan doen nie.

Die verkoop van skuldkontrakte op dié platform is gister “tydelik opgeskort”. Probleme by die moedermaatskappy, OneLaw, het die skuld daarvoor gekry, hoewel die betrokkenes nou ook ontken dat OneLaw inderdaad steeds die moedermaatskappy is.

Cambist is al geruime tyd in die nuus oor die hemelhoë jaarlikse opbrengs van 19,5% wat aangebied word aan mense wat skuldkontrakte op sy webwerf koop. Dit sluit in salarisbeslagleggingsbevele wat gekoop word van partye aan wie verbruikers geld skuld.

In ’n stadium, toe Cambist in 2012 die rugbyspeler Francois Hougaard in sy advertensies in Rapport gebruik het, is ’n opbrengs van 24% aangebied.

Hougaard het hom intussen aan die advertensies onttrek.

Cambist se moedermaatskappy was nog tot onlangs OneLaw, “maar dit is nie meer die geval nie”, het Lise Oerlemans, Cambist se bestuurder, gister gesê.

OneLaw word deur Corné Aldum besit en hy is die enigste direkteur van dié maatskappy.

Onsekerheid omhul nou ook die voortbestaan van OneLaw, wat Maandag skielik die meeste van sy personeel afgedank het.

OneLaw het egter nie op navrae hieroor gereageer nie.

Nadat Onecor en Bridge, wat voorheen bande met OneLaw gehad het, in September in sakeredding geplaas is, het vrae oor die voortbestaan van Cambist ook begin ontstaan.

Onecor en Bridge het saam meer as R1 miljard ontvang van beleggers.

Oerlemans sê in ’n e-pos OneLaw het Cambist nie verkoop nie, maar hy is bloot “afgestig”.

Sy voeg by ’n rakmaatskappy is ’n tyd gelede al bekom en die aansoek om naamsverandering is in die proses om afgehandel te word. Die hele besigheidsproses van OneLaw het intussen reeds oorgegaan na die nuwe entiteit.

Dieselfde aandeelhouers en direkteur is betrokke by die nuwe maatskappy en volgens haar is Aldum steeds ’n direkteur.

Luidens ’n verklaring wat sy gestuur het, het “baie bedrywighede die laaste maande by OneLaw plaasgevind, grootliks weens faktore buite sy beheer”.

Op die vraag of OneLaw gelikwideer gaan word, het sy gesê sy verstaan dit word nie oorweeg nie. “Aandag word daaraan gegee om bates te realiseer om sodoende uitstaande pakkette aan personeel te betaal.”

Cornè Aldum, wat sowat 20 jaar gelede 'n mikrolener op Newcastle begin het.

Strenger beheer oor salarisbeslagleggingsbevele het daartoe gelei dat die maatskappy onder druk gekom het. Die prokureurs wat OneLaw se IT-stelsel en netwerke gebruik, het dus volgens haar besluit om hul diensooreenkomste met OneLaw te beëindig.

“Koop en verkoop op die Cambist-platform is tydelik opgeskort weens dié ontwikkelings,” het sy gesê.

“Ons sal binnekort met Cambist-kopers kommunikeer oor verdere ontwikkelinge in dié verband.”

OneLaw het in November al mense afgedank.

Tóé het Arnoud van den Bout, voorheen woordvoerder van ­OneLaw, gesê OneLaw het deur ’n “herskikking” gegaan en kyk na nuwe inkomstestrome.

Volgens hom is die inkomste uit salarisbeslagleggingsbevele onder druk. “Daar is baie probleme in die mark en howe het die vereistes moeiliker gemaak om vonnisse te kry. Banke het ook opgehou om salarisbeslagleggingsbevele toe te pas.”

Die salarisbeslagleggingsbevele is op Cambist se platform verkoop aan “beleggers”.

Dan het die kredietverskaffer onmiddellik sy geld teruggekry en die persoon wat die kontrak gekoop het, kon op sy geld ’n opbrengs verdien soos wat die skuldenaar sy skuld terugbetaal.

Annemi Olivier, ’n woordvoerder van OneLaw, het in November gesê Onelaw is ’n skuldinvorderingsmaatskappy. “Ons vorder skuld in en Cambist, wat ’n ander entiteit is, koop en herverkoop die kontrakte.”

Sy het toe bevestig daar is deur ’n herstrukturering gegaan en het ontken dit het met geldprobleme te doen. Sy het ook ontken dat dit iets met die sakeredding van Brige en Onecor te doen het.

Op die vraag of hulle enige finansiële state, het Oerlemans gesê: “Cambist-kopers maak geen belegging nie, maar koop sake aan by verkopers”.

“Eienaars van sake het gedurigdeur toegang na sy eie sake en kan die onderliggende dokumentasie stelselmatig besigtig en aanvra.”

Of hul finansiële state geoudit word, het sy geantwoord: “Cambist se state word geoudit, maar soos voorheen aan jou verduidelik, is dit nie relevant tot Cambist kopers nie, aangesien kopers en verkopers se geld nie gehanteer word deur die platform nie.

“Cambist is dus eintlik net ’n markplek waar kopers en verkopers ontmoet en sy uitgawes nis ie beduidend nie. Uitgawes word gefinansier uit die verkoper se diskonto waarmee hy sy sake verkoop.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.