Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Clover smaak weer melk en heuning
Clover se insetkoste het aansienlik gestyg in die afgelope boekjaar, wat hom genoop het om ook sy verkooppryse aan te pas.

Clover, die land se grootste suiwelverwerker, se strategie om sy handelsmerk sterk uit te bou, het die afgelope boekjaar vrugte afgewerp.

Die groep het sy inkomste met 8,6% tot R9,3 miljard verhoog, en sy wesensverdienste per aandeel met 69% tot 173,6c verhoog.

Hy skryf die goeie vertoning toe aan ’n hoër verkoopprys asook die bekendstelling van produkte met toegevoegde waarde, soos die herinstelling van Clover se jogurt-handelsmerk en ’n nuwe langlewe-vla in die tweede helfte van die boekjaar.

Lees ook:

​Ryk en lekker - só help banting suiwelgroepe

​Clover wys met Nam-notering hy's ernstig oor Afrika

’n Aantal verkrygings, soos Dairybelle se jogurt- en langlewemelk-ondernemings asook Nkunzi Milkyway, ’n verskaffer van Ayrshire-melk en nisprodukte vir Woolworths, het ook bygedra tot die goeie vertoning, sê Johann Vorster, uitvoerende hoof van Clover.

Hy wys daarop dat die groep se insetkoste aansienlik gestyg het in die afgelope boekjaar, wat Clover genoop het om ook sy verkooppryse aan te pas.

“Die prys van melk by die plaashek het met 6% in die derde kwartaal toegeneem, bykomend tot die 15%-verhoging wat ons in die vorige boekjaar beleef het, terwyl verpakkingskoste die afgelope boekjaar ook met 11,6% gestyg het.”

Die laer brandstofprys asook die staking van melkverskaffing aan Danone, het egter gehelp dat die maatskappy se afleweringskoste met 11,4% gedaal het.

Die verhoging in die plaasprys van melk het daartoe gelei dat die nasionale melkproduksie toegeneem het, en volgens Vorster is daar tans ’n oorvoorsiening van roumelk, wat ’n negatiewe impak op plaaslike markpryse het, wat verder vererger word deur die huidige lae internasionale suiwelpryse.

“Clover se stelsel vir melkverkryging probeer ’n balans tussen melkinname en verkope handhaaf, maar die groep bly blootgestel aan afwaartse druk op die oorkoepelende markpryse.”

Die maatskappy het ’n totale dividend van 56c per aandeel verklaar, wat ’n toename van 75% teenoor die vorige boekjaar verteenwoordig.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.