Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Metropolitan stel ondersoek in
Cobus Kellermann: Vrae oor SA beleggers se geld
Cobus Kellermann se besonderhede op die fondsfeiteblad van die Metropolitan Clarus-effektetrustfondse.

Dit is nog onduidelik of enige Suid-Afrikaanse beleggers blootgestel is aan die beweerde Ponzi-skema van ’n oorsese maatskappy waarby die Kaapse batebestuurder Cobus Kellermann betrek word.

Volgens die webtuiste ​Offshorealert.com is Kellermann ’n direkteur en aandeelhouer van Mauritius-gebaseerde Belvedere Management Group. Belvedere Management Group word glo deur hom; David Cosgrove, ’n Ier; en Kenneth Maillard van Maritius beheer.

Volgens Offshorealert.com word Belvedere Management Group betrek by beweerde bedrog met beleggingsgeld, insluitende ’n beweerde Ponzi-skema van sowat £100 miljoen (sowat R1,77 miljard).

Kellermann self kon nog nie vir kommentaar bereik word oor sy betrokkenheid by dié maatskappy van Mauritius en of enige Suid-Afrikaanse beleggers wie se geld hy bestuur het by die beweerde Ponzi-skema belê is nie.

Kellermann was tot onlangs uitvoerende hoof en een van die fondsbestuurder van Clarus Asset Managers van Kaapstad.

Clarus het die afgelope twee jaar sowat agt effektetrustfondse onder die lisensie van Metropolitan Collective Investments (MetCI) bestuur.

Suid-Afrikaners het altesaam sowat R1,3 miljard in dié fondse belê.

MetCI het ’n lisensie by die Raad op Finansiële Dienste (RFD) wat ander batebestuurders toelaat om onder sy kollektiewebeleggingskema-lisensie onder hul eie name effektetrusts te bestuur.

Teen Dinsdagmiddag het MetCI gesê hy is besig om nog van die bates na te gaan wat in oorsese jurisdiksies belê is om te bepaal of enige beleggings “gekompromitteer” is.

“MetCi sal verdere aankondigings doen sodra die ondersoeke afgehandel is.”

Kellermann se naam verskyn nog op minstens een fondsfeiteblad naamlik die MET Global Diversified Feeder Fund. Daar is sowat R145 miljoen in dié fonds belê.

Die maatskappy het gesê die verhouding tussen Kellermann en MetCI het in Julie 2014 geëindig nadat Contego Batebestuur vir Clarus gekoop het.

Hermann Labuschagne, ’n direkteur van Clarus Batebestuur, het gister gesê die Clarus-fondse word nou deur die Bellvillese fondsbestuurder Contego van JC en Cobus Louw bestuur.

Hy het gesê dat Kellermann reeds by Clarus bedank het nadat die oorname plaasgevind het

“Suid-Afrikaanse beleggers se geld is nie in gevaar nie,” het hy by navraag gesê toe hy gepols is oor die moontlikheid dat van die geld belê is in Belvedere-verwante fondse of maatskappye.

Hy het ook by navraag gesê Clarus het “geen verbintenis” met enige van die oorsese maatskappye wat aan die Belvedere-groep verwant is nie.

Effektetrustfondse word as baie veilig in Suid-Afrika beskou omdat dit streng gereguleer word.

Labuschagne het gesê hy ken Kellermann sedert vier jaar gelede toe Clarus die effektetrustfondse van Dynamic Wealth se bestuur oorgeneem het. Labuschagne was voorheen by Dynamic Wealth. Hy het gesê Clarus het Dynamic Wealth se effektetrustboek oorgeneem en bestuur.

Dynamic Wealth het voorheen ook onder MetCI se lisensie fondse bestuur. Metropolitan het die fondse se bestuur teruggeneem toe die Raad op Finansiële Dienste (RFD) twee bestuursmaatskappye in Dynamic Wealth se lisensies teruggetrek het.

Die RFD se webtuiste toon ook dat Kellermann by twee maatskappy, Pensionation Investments South Africa en RSA Multi Asset Managers, as ’n sleutelpersoon saam met Labuschagne geregistreer is.

Labuschagne het gesê dit is deel van die gebeurlikheidsplan as iets met hom sou gebeur.

“Dis hoe Cobus in die stadium betrokke is.”

Volgens hom het Kellermann ook reeds sy bedanking die afgelope naweek by dié twee maatskappye ingedien omdat dit “vanuit ’n risiko-oogpunt die regte ding is om te doen”.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.