Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Handbagasie: Nuwe reëls op vlugte stuk-stuk toegepas
Maak seker wat die maksimum grootte van jo handbagasie is wanneer jy weer 'n oorsese vlug bespreek. Foto: Reuters
Die Lugvaart-owerheid sal ons laat weet sodra daar planne is om regulasies te hersien... Totdat dit gebeur, bly die huidige regulasies in plek.
Tlala Tlala van die SAL

Die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) het Dinsdag aangekondig dat hulle die dimensies van handbagasie wat op alle internasionale vliegtuie toegelaat word, kleiner gaan maak.

Die vorige dimensies was 56 cm x 36 cm x 23 cm en die nuwe voorstellings is 55 cm x 35 cm x 20 cm. Die gewig van die handbagasie wat toegelaat word, het ook van 7 kg na 5 kg verminder.

Net riglyne

The New York Times het berig dat die nuwe dimensies voorlopig net riglyne is en dit is nie nodig om tasse weg te gooi en ander te koop nie. Die regulasies sal van een lugdiens tot ’n ander verskil.

Luidens ’n mediaverklaring wat deur die Iata uitgereik is, bestaan die nuwe riglyne sodat almal hul tasse in die bagasie kajuit kan sit in ’n gewone 120-sitplek-vliegtuig.

Die verklaring het ook gesê die nuwe bagasie wat by die riglyne pas, sal ’n “IATA Cabin OK”-kenteken op hulle hê.

“Die vervaardiging van standaardgrootte tasse sal ’n oplossing bring vir die probleem van verskillende groottes handbagasie. Ons weet die huidige situasie kan frustrerend wees vir passasiers,” het Tom Windmuller, die Iata se senior adjunkpresident vir lughawens, passasiers, vrag en sekuriteit, gesê.

Betrokke lugdienste

Tot dusver het die lugdienste Avianca, Azul, Caribbean, Cathay Pacific, China Eastern, China Southern, Emirates, Lufthansa en Qatar ingestem om die nuwe dimensies te implementeer. Iata verwag dat nog lugdienste oor die volgende paar maande sal instem.

Bagasiewinkels het gesê hulle kry hul voorraad by internasionale vervaardigers wat oral ter wêreld dieselfde standaard gebruik en as hulle kleiner as dít moet word, gaan die voorraad in al die internasionale winkels so te sê nutteloos wees.

“Groottes het vroeër vanjaar verander en nou al weer. Die kleinste wat ek het, is 20 cm diep. As dit net ’n sentimeter verder moet gaan, sal al my kliënte weer moet koop. Ek het nog ’n paar van ’n ander reeks waarvan die kleinste sowat 23/24 cm is. Die maatskappy sal alles moet oormaak,” het Carmen Olwage van Pakwells in Pretoria se Menlyn-winkelsentrum gesê.

Wat sê SA lugdienste?

Tlali Tlali, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se woordvoerder, het gesê die huidige grootteregulasies sal in plek bly tot die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) verdere opdragte gee.

“Die BLO sal ons laat weet sodra daar planne is om regulasies te hersien sodat dit in harmonie is met dié van die Iata. Totdat dit gebeur, bly die huidige regulasies in plek,” het hy gesê.

Die woordvoerder van Comair was nie beskikbaar vir kommentaar nie weens ’n werkswinkel wat hulle moes bywoon. Teen druktyd het die woordvoerder van Fly Air Link, Karin Murray, nog geen kommentaar gelewer het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.