Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Mango wil sy vlerke sprei
Mango, wat deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) besit word, se verkope in die boekjaar tot einde Maart het met 42% toegeneem. Dit het gelei tot ’n rekordwins van R40 miljoen vir die jaar.

Die laekostelugdiens Mango is van plan om nuwe vlugroetes en vliegtuie by te kry om te voldoen aan die toenemende vraag na goedkoper vlugte deur die sukkelende Suid-Afrikaanse verbruiker.

“Die Suid-Afrikaanse bevolking raak toenemend pryssensitief en beweeg na laer en meer bekostigbare prysopsies, en ons ervaar ’n groter passasiersvraag,” sê Nico Bezuidenhout, uitvoerende hoof van Mango.

“Dit gaan ’n goeie jaar van inkomste vir ons wees.”

Mango, wat deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) besit word, se verkope in die boekjaar tot einde Maart het met 42% toegeneem. Dit het gelei tot ’n rekordwins van R40 miljoen vir die jaar. 

Sy moedermaatskappy ly egter verliese en wag nog op goedkeuring van die nasionale tesourie vir bykomende finansiering om die maatskappy aan die gang te hou.

“Goeie beheer oor eenheidskoste, toenemende groei in markaandeel - als lei tot beter marges,” het Bezuidenhout gesê. “Dit gesê, marges in die lugvaartbedryf is berug vir hoe sleg dit is.”

Hoewel Mango vanjaar hoër verkope verwag, kan winsmarges val weens die swak ekonomiese groei in Suid-Afrika, het hy gesê. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het Dinsdag sy vooruitsigte vir ekonomiese groei vir die jaar na 1,4% verlaag.

Die vooruitsigte vir die jaar word ook ietwat slegter met die aankoms van nog ’n laekostelugdiens, FlySafair, met sy eerste vlug tussen Kaapstad en Johannesburg op 16 Oktober. FlySafair sal meeding met Mango en Kulula, Comair se laekostelugdiens.

Mango het die afgelope tyd agt Boeing 737-8000 vliegtuie gekoop en vlieg steeds hoofsaaklik tussen Kaapstad, Johannesburg en Durban.

Die maatskappy is van plan om nog twee Boeings te koop en sal meer vlugte na Port Elizabeth en George bekend stel, met die moontlikheid van ’n nuwe roete na Oos-Londen, het Bezuidenhout gesê.

Hy soek ook nog ’n bestemming elders in Afrika om by te voeg tot sy vlugte na Zanzibar. Moontlike bestemmings sluit Kenia en Mauritius in.

“Ons is sensitief rakende ons aandeelhouer wanneer dit kom by uitbreiding in Afrika,” het Bezuidenhout gesê, met verwysing na die vereiste van die regering dat Mango nie regstreeks met die SAL meeding op sekere roetes nie.

“Ons probeer op vakansieroetes fokus meer as op sakeroetes.”

Mango se positiewe kontantvloei en skuldvrye balansstaat sal hom genoeg finansiële krag gee om sy vloot teen 2021 te hernieu, het Bezuidenhout gesê.

- Bloomberg

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.