Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Standard Bank jammer vir fout by kitsbanke
Vrydag op Twitter het verskeie mense gekla oor probleme met Standard Bank se kitsbanke. Foto: iStock

Op betaaldag wil jy nie sukkel om geld by die kitsbank te trek nie.

Dis egter wat Vrydag met verskeie kliënte van Standard Bank gebeur het.

’n Leser, Marelize Ferreira-Greyling, het op Beeld se Facebook-blad geskryf as jy geld by Standard Bank se kitsbanke trek, verskyn die boodskap “updating your account” en “dan is jou rekening leeg”.

Volgens haar was Standard Bank in Randfontein Vrydag “propvol mense met dié probleem”. Sy sê Standard Bank het aangedui dat dit ’n nasionale probleem is.

Ook op Twitter het verskeie mense gekla oor soortgelyke probleme met Standard Bank se kitsbanke.

Robert Southey het getwiet kitsbanke wys dat die geld onttrek is, maar dat geen kontant uitgekom het nie. “In Norwood Mall se tak met kwaai kliënte,” het hy getwiet.

’n Woordvoerder van Standard Bank het aan Netwerk24 gesê daar was Vrydag tussen 08:00 en 09:30 “tegniese probleme”.

Volgens hom was die probleme beperk tot debietkaarte by kitsbanke en punt-van-verkope-terminale.

“Kliënte wat geld onttrek het, sou gesien het dat hul balans verander is, maar nie die geld ontvang het nie. Hierdie saak is reggestel en al die transaksies wat geraak is, is reggestel.”

Standard Bank het om verskoning gevra vir die ongerief wat die probleme vir sy kliënte veroorsaak het.

Standard Bank sukkel nou al geruime tyd óf met kredietkaartbetalings wat nie deurgaan nie óf met internetbankdienste wat af is.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.