Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
AA: E-tol gaan nóóit werk
’n E-tolhek op die N1-snelweg in Gauteng. Foto: Christiaan Kotze

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê die ministeriële taakspan wat teen einde Augustus die e-tolprobleem moet oplos, het ’n duidelike uitweg: Skrap die stelsel en skep ’n spesiale brandstofheffing.

Volgens die AA se eie navorsingsverslag oor padfinansiering is daar geen manier waarop e-tol meer kan werk nie – nie skuld, regsaksie of wetstoepassing sal dit verander nie.

“Die meeste mense het jare gelede ’n beginsel-posisie ingeneem en geen hoeveelheid mooipraat of dreig sal hulle van plan laat verander nie,” sê die organisasie in ’n verklaring.

In ’n verklaring wat Donderdag uitgereik is, sê die AA ’n plaasvervanger vir e-tol moet inderdaad dringend in werking gestel word om die Gautengse snelwegverbeteringsprojek (GFIP) te finansier.

Sy voorstel is om ’n afgebakende e-tolheffing by die algemene brandstofheffing te inkorporeer wat “billik en volhoubaar” sal wees.

Die AA sê alle e-tol wat sedert 2013 betaal is, moet terugbetaal word om ondersteuning vir die nuwe, beter stelsel te help bou.

Die assosiasie sê sy internasionale navorsing dui daarop dat die voorgestelde heffing op ’n provinsiale vlak toegepas kan word, ten spyte van kritiek wat sê dit sal net op nasionale vlak werk. Sodoende word verseker dat slegs mense wat voordeel trek uit die GFIP daartoe bydra.

“So ’n afgebakende heffing verlig baie van die probleme wat tans ondervind word en sal onmiddellik ’n invloed hê op die finansiering van die GFIP,” sê die AA.

“Gegewe die geweldige weerstand teen e-tol in Gauteng, moet ’n werkbare en volhoubare oplossing almal se einddoelwit wees. Dit is en was nog altyd die regte oplossing en dit is wat ons al sedert e-tol vir die eerste keer bespreek is, bepleit het.”

Fikile Mbalula, nuwe minister van vervoer, David Makhura, Gautengse premier, en Tito Mboweni, minister van finansies, is deur pres. Cyril Ramaphosa opdrag gegee om die e-tolprobleem teen einde Augustus op te los.

Makhura is lankal ’n kampvegter teen die e-tolstelsel, wat al R90 miljard se skuld opgebou het.

“Daar is nie ’n insamelingstelsel wat op die e-tolmodel gegrond is wat nou, of ooit, sal kan werk nie. Die departement van vervoer, die nasionale tesourie, die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en die e-tol-bestuurders moet dit erken. Die afgebakende heffing is die enigste werkbare oplossing en enige pogings om dié benadering te ontken, vererger ’n reeds afskuwelike situasie terwyl ’n haalbare oplossing geïgnoreer word,” het die AA verklaar.

Meer oor:  Automobiel Assosiasie  |  Aa  |  E-Tol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.