Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Aaklige’ syfers van Mr Price ná swak modekeuses

Die Mr Price-groep het Donderdag ’n “aaklige” handelsoorsig uitgereik nadat hy ’n fout begaan het met sy modes en meer afslag moes gee om van die voorraad ontslae te raak.

Mr Price het foute met sy wintermodes gemaak.

Sy verkope het vanaf April in die eerste vier maande van sy nuwe boekjaar met ’n droewige 0,5% tot R6,9 miljard gestyg.

Sy aandeelprys het 12% geval na die handelsoorsig uitgereik is. 

Die groep het in die handelsoorsig gesê hy het in Mei met die uitreiking van sy resultate vir die boekjaar aangedui dat hy in die eerste helfte van sy nuwe boekjaar baie gaan sukkel.

Benewens die druk waaronder verbruikers verkeer, het die groep interne probleme ondervind.

Die maatskappy besit Mr Price, Mr Price Sport, Miladys, Mr Price Home en Sheet Street.

Die grootste probleme is ondervind met Mr Price se klereverkope, wat amper 60% tot die groep se verkope bydra.

Mr Price se verkope het met 2% in die vier maande gedaal. As nuwe winkels uitgesluit word, het die verkope met 5% gedaal.

Dit het sy totale verkope afgetrek, want die ander kettingwinkels in die groep het nie sleg gevaar nie. Mr Price Sport het ’n styging van 9% in verkope getoon en Mr Price Home 3%.

Die maatskappy het gesê ’n probleem is met die verskeidenheid van klere op sy rakke in die tweede helfte van sy vorige boekjaar, dus vir die ses maande tot einde Maart, ondervind.

Dit het gelei tot oortollige voorraad wat in die winterseisoen nog op sy rakke was en hoër as “gewenste afslagpryse” was nodig om van die voorraad ontslae te raak.

“Dit het veroorsaak dat klante se besteding op die klere wat volpryse gedra het, weggetrek is.”

Dit het ’n “wesenlike invloed op die bruto winsmarge gehad”, wat beteken dat die groep se wins waarskynlik getref gaan word.

Volgens die groep het die nuwe uitvoerende bestuurspan baie tyd bestee om te bepaal waar die fout met die klerereekse lê. Herstellende stappe is gedoen.

In Mei het die groep gesê hy verwag nie dat die probleme ’n invloed op sy verkope in die winter gaan hê nie.

Sy wintervoorraad is aan die einde van die winter op “aanvaarbare vlakke”.

“Vroeë tekens van herstel in aanloop tot die lente en somer word gesien.”

Mr Price se verkope het die afgelope twee weke ná die tydperk waaroor die handelsoorsig handel, met 4% gestyg.

Die groep verwag dat die handelsomgewing vorentoe steeds moeilik gaan wees.

Die groep het in 2016 ’n fout begaan met sy winterklere en gekla oor ’n “ongewone warm winter”. Sy aandeelprys het skerp geval toe hy in Augustus daardie jaar getoon het hoe swak sy winterverkope gevaar het.

LEES OOK: Mr Price stort teen afgrond af ná slegte winter

Op Twitter het ontleders en portefeuljebestuurders opgemerk hoe swak die handelsoorsig is.

Dave Hazelwood, wat homself as ’n belegger en handelaar beskryf, het dit as ’n “aaklige” handelsoorsig beskryf. 

Greg Davies van Cratos Capital het dit as teleurstellend beskryf.

Meer oor:  Mr Price  |  Huisware  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel  |  Klere  |  Klerekleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.