Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aandeel duik, maar Sasol sê daar is hoop
Paul Victor, finansiële hoof van Sasol.Foto: Elvira Wood

Beleggers het Maandag hul misnoeë met Sasol se resultate vir die ses maande tot einde Desember duidelik op die JSE gewys.

Die petrochemiese reus se aandeelprys het met meer as 7% tot R198,26 geval.

Dit kom nadat Sasol vroegoggend aangekondig het dat basiese en wesensverdienste per aandeel onderskeidelik met 73% tot R6,56 en 74% tot R5,94 gedaal het. Dis teenoor dieselfde tydperk ’n jaar gelede.

Boonop gaan Sasol nie ’n tussentydse dividend uitkeer nie én dit blyk die kanse op ’n finale dividend aan die einde van die huidige boekjaar is skraal.

Een van die grootste redes hoekom Sasol kleigetrap het, is weens probleme by sy chemiese aanleg wat hy naby Lake Charles in die Amerikaanse deelstaat Louisiana bou.

Probleme met dié projek het Sasol se verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) met R1,1 miljard beïnvloed.

Aangepaste ebitda vir Sasol is 27% laer teen R19,59 miljard.

Fleetwood Grobler, uitvoerende hoof, sê Maandag op ’n voorlegging van die maatskappy se resultate in Sandton, Johannesburg, hulle glo dat soos die Lake Charles-aanleg deur die loop van 2020 in bedryf gestel word, sal dit gedurende die tweede helfte van die huidige boekjaar ’n positiewe bydrae tot ebitda lewer.

“Ons verwag dat dit gedurende die tweede helfte van vanjaar ’n positiewe bydrae van tussen $50 miljoen en $100 miljoen sal lewer.

“In 2021 is die verwagting dat dit tussen $600 miljoen en $750 miljoen sal wees.”

Teen die huidige wisselkoers is dit ’n bydrae van tussen sowat R758 miljoen en R1,5 miljard in 2020 en R9 miljard en R11,4 miljard in 2021.

Hoewel Lake Charles se syfers in dollar aangegee word, doen Sasol verslag in rand.

“Ons verwag steeds dat die koste van die projek tussen $12,6 miljard en R12,8 miljard gaan beloop soos wat voorheen aan die mark gekommunikeer is.”

Grobler sê hoewel ’n ontploffing en brand in Desember in die laedigtheidspoliëtileen-eenheid (LDPE) die projek vertraag het, gaan dit nie keer dat Lake Charles later vanjaar behoorlik op dreef kom nie.

LEES OOK: Olie, Lake Charles laat Sasol nee sê vir dividend

Paul Victor, finansiële hoof van Sasol, sê dis nie nét die vordering in Lake Charles wat sy prestasie beïnvloed nie.

Hy wys daarop dat gebeure buite die maatskappy se beheer na verwagting in die onmiddellike toekoms beduidende druk op die finansiële prestasie kan plaas.

Een van dié is die invloed van die koronavirus, nie net op Sasol se bedrywighede in China nie, maar ook op internasionale pryse vir brandstof en chemikalieë.

“Ons verwag nie dat die koronavirus Sasol se bedrywighede regstreeks beduidend sal beïnvloed nie. Ons is egter uiters bekommerd oor wat die groter invloed van dié virus op die Chinese en wêreldekonomie kan wees,” sê hy in ’n onderhoud met Netwerk24.

Hy sê daar is die moontlikheid dat pryse vir chemikalieë laer kan wees, maar dit sal net Sasol se marges beïnvloed.

“Sou die probleem nie binnekort in bedwang gekry word nie en dit die Chinese ekonomie teen ’n beduidend stadiger pas laat groei, voorsien ons dat die wêreldekonomie moontlik in ’n resessie kan verval. Dit kan ’n groot nadelige invloed op alle maatskappye hê.”

Victor sê dis nog te vroeg om die invloed van die koronavirus op Sasol se bedrywighede akkuraat te voorspel.

Dis juis al die veranderlikes wat die direksie genoop het om alle stappe te doen om die maatskappy se balansstaat te beskerm. Die beskerming van Sasol se balansstaat is die rede hoekom ’n tussentydse dividend nie nou uitgekeer is nie én hoekom die kanse skraal is dat ’n finale dividend aan die einde van die huidige boekjaar uitgekeer gaan word.

“Ons sal egter die oomblik wanneer ons balansstaat dit toelaat, weer die uitkeer van dividende hervat,” sê Victor.

Meer oor:  Sasol  |  Energie  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Lake Charles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.