Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aandeelhouers verskil heftig oor Moyo-dispuut
Een van Old Mutual se kantore in Johannesburg.Foto: Getty Images

Groot institusionele aandeelhouers van die finansiëledienstegroep Old Mutual is verdeeld oor of die groep moet skik met Peter Moyo, die uitvoerende hoof wat hy afgedank het, of die risiko loop van ’n skadevergoedingseis van R250 miljoen.

All Weather Capital meen ’n skikking sal gaaf wees as dit ’n einde sal bring aan die korporatiewe stryd.

Die batebestuursgroep Allan Gray, op een na die grootste belegger in Old Mutual, is teen ’n skikking gekant, terwyl Sanlam Beleggingsbestuur wil wag en kyk hoe die huidige hofproses verloop.

Prudential Investment Managers meen ’n skadevergoedingseis met die omvang van R250 miljoen sal “kolossaal” wees.

Dit kom nadat Moyo vir Old Mutual vir skadevergoeding gedagvaar het tensy hy sy pos terugkry.

Old Mutual sê hy sal enige eis teenstaan, en die 174-jaar-oue maatskappy sê hy het reg opgetree deur Moyo af te dank.

Moyo is in Mei vanjaar geskors en drie weke later afgedank. ’n Hof het beslis sy afdanking was onbillik.

Shane Watkins, beleggingshoof van All Weather Capital, sê Old Mutual se direksie het die saak vrot hanteer en veranderinge is nodig. Volgens hom behoort die direksie onafhanklik te besluit of Trevor Manuel as voorsitter moet aanbly. Deel van die dispuut tussen Moyo en Old Mutual hou verband met onmin tussen Moyo en Manuel.

Johny Lambridis, aandelehoof by Prudential, meen hulle verkies ’n skikking buite die hof eerder as ’n lang uitgerekte hofproses waarvan die uitslag onseker is. Maar die prys van die skikking is te hoog. “Dit lyk veral buitensporig in ’n samelewing soos ons s’n met soveel ongelykheid,” sê Lambridis.

Die bedrag van R250 miljoen wat Moyo eis is bykomend tot die R36 miljoen wat hy in 2018 as salaris en aansporings verdien het, en R4 miljoen vir sy kennisperiode van ses maande, het Old Mutual gesê.

Moyo is 56 jaar oud en meen hy het niks verkeerd gedoen nie, moes ’n tugverhoor gehad het voor hy afgedank is, en dat sy kontrak eers sou verstryk as hy 61 word.

Volgens Moyo onderhandel hy en Old Mutual nie tans oor ’n skikking nie.

Allan Gray besit 10% van Old Mutual namens sy kliënte en steun die direksie. “Ons glo maatskappydireksies behoort in staat te wees om uitvoerende hoofde af te dank en kontantuitbetalings behoort nie nodig te wees nie,” het Jacques Plaut, portefeuljebestuurder by Allan Gray, gesê.

Die Openbare Beleggingskorporasie, die grootste enkele aandeelhouer in Old Mutual, sê hy het albei partye in die dispuut aangemoedig om ’n oplossing te vind, want ’n vertraging “sal die vernietiging van aandeelhouerswaarde verhoog”.

Meer oor:  Old Mutual  |  Peter Moyo  |  Aandeelhouers  |  Maatskappye  |  Skadevergoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.