Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aanlyn klerewinkels kraai koning in ’20

Aanlyn klerewinkels het die afgelope jaar koning gekraai nadat die uitbreking van Covid-19 voetverkeer in winkelsentrums aansienlik verminder het. En die neiging is hier om te bly, meen kenners.

Sportiewe of gemaklike klere wat ook vir werk of speel gedra word, is ’n groeiende tendens. Foto: Nike

Winkelsentrums landwyd sê dis ’n moeisame herstelpad om weer die vlakke van besoekers te bereik wat hulle voor die pandemie gehad het en hulle meen dit kan tot twee jaar duur.

Een van die plaaslike aanlyn klerewinkels wat veral voordeel getrek het uit die inperking ná die uitbreking van die pandemie – en mense se aarseling om fisieke winkels te besoek – is RunwaySale. “Ons verkope het aansienlik toegeneem. En net oor die afgelope vier maande was dit 40% hoër,” sê Rob Noble, bedryfshoof.

RunwaySale verkoop klere en skoene van bekende handelsmerke teen verminderde pryse. Die klerasie is gewoonlik voorraad wat vir een of twee seisoene nie in winkels verkoop het nie.

Noble sê RunwaySale help hierdie winkels om op ’n verantwoordelike manier van hul voorraad ontslae te raak. “Nie soos Burberry en ander wat tot twee jaar gelede nog hul oorskotvoorraad verbrand het eerder as om dit goedkoper van die hand te sit nie.”

Business Insider het vroeër berig dié Britse handelsmerk het eerder klere, handsakke en ander bykomstighede wat nie verkoop is nie, verbrand. In 2017 alleen is klerasie van meer as R500 miljoen so vernietig.

Luigi April, die Afrikaanse gospel-kletsrymer wat onlangs sy #HKND-klerereeks bekend gestel het. #HKND is die afkorting vir “Hier kom ’n ding.” Foto: Luigi April
Luigi April se #HKND-klerereeks.

Noble sê RunwaySale het in die afgelope jaar ook ’n groot kliëntebasis bygekry onder inwoners van die land se informele nedersettings wat met hul selfone klere aanlyn koop.

“Die groei wat ons ervaar het met verkope in informele nedersettings was 90%,” sê Noble. Volgens hom is die opkomende middelklas ontsettend ingestel op kwaliteit, maar teen waarde vir geld.

Die migrasie van fisieke klerewinkels na aanlyn inkopies is wêreldwyd ’n neiging – veral waar jonger aanlyn winkels handelsmerke met ’n lang geskiedenis oorkoop.

The Guardian het vroeër berig die aanlyn groep Boohoo, wat in 2006 in Brittanje begin is, het die 243 jaar oue afdelingswinkel Debenhams onlangs “ingesluk”.

Nog ’n aanlyn klerewinkel het die Britse handelsmerke Topshop, Selfridge en HIIT onlangs oorgekoop.

Benewens die “kannibalisering” van fisieke winkels in die klerebedryf koop mense ook al minder formele drag en meer sportiewe slenterdrag, oftewel athleisure. Rapport het vroeër berig hoëhakskoene se verkope het weens die inperking gedaal omdat mense minder uitgaan en gemak die botoon voer.

LEES OOK: Nog ’n slagoffer van Covid: hoëhakskoene

“Daar was ’n 200%-groei in ons athleisure-klere,” sê Noble.

Ook oorsee is die skuif na gemak aan die orde van die dag.

Op Lyst, ’n internasionale soekplatform vir modes, is ’n paar Jimmy Choo-tekkies wat met kristalle bedek is te koop vir $5 610 (ongeveer R85 760).

Maar op dieselfde webwerf het soektogte na pantoffels die afgelope jaar met 242% geklim.

Nietemin vaar die plaaslike handelsmerk Carducci, wat formele ontwerpersklere maak, steeds uitstekend – veral onder die opkomende middelklas.

Bryan Turner, ’n vennoot by Spear Capital, sê egter nie alle plaaslike handelsmerke kan op hul eie voete staan nie en dit sal hulle loon om hul klere op bestaande e-handelplatforms te verkoop.

Meer oor:  Kleinhandel  |  E-Handel  |  Klere  |  Klerekleinhandel  |  Winkelsentrums  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.