Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aanlyn tabakverkope: Kampvegter pak Gold Leaf

Tax Justice South Africa (TJSA) is weer op die oorlogspad teen die Zimbabwiese sigaretvervaardiger Gold Leaf Tobacco Corporation omdat hy na bewering sigarette onwettig aanlyn verkoop.

tabakverkope
Die pak sigarette wat Tax Justice South Africa sonder probleme kon bestel van Gold Leaf se webblad.

Gold Leaf is bekend vir sigarethandelsname soos Chicago, Voyager, RG en Sharp, en volgens Yusuf Abramjee van TJSA het Gold Leaf se sigarette meer as ’n kwart van al die sigarette verteenwoordig wat tydens die Covid-19 inperking se tabakverbod in die sluikhandel verkoop is.

Abramjee beweer Gold Leaf betaal straks nie belasting op dié produkte wat hy nou aanlyn aan sogenaamde handelsvennote verkoop nie. “Aanlyn kliënte kan nou enkelkartonne sigarette vir so min as R22,50 per pak koop, wat kan beteken Gold Leaf betaal nie die belasting van R20,35 per pak nie,” sê Abramjee in ’n verklaring wat hy Sondag uitgereik het.

Abramjee meen die Fair-Trade Tobacco Association (Fita), wat tydens die tabakverbod hard geveg het om die verbod tydens die Covid-19 inperking op te hef, behoort Gold Leaf aan te spreek oor dié bevindings in TJSA se ondersoek na Gold Leaf se verkoopspraktyke.

Gold Leaf is volgens Abramjee een van Fita se voorste lede. Fita beywer hom vir billike en gelyke geleenthede vir kleiner tabakvervaardigers in Suid-Afrika. Die organisasie veg teen teenmededingende optrede soos prysvasstelling in die tabakbedryf, wat grotendeels oorheers word deur groot internasionale spelers soos British American Tobacco en Philip Morris.

tabakverkope
Die webblad van Gold Leaf Tobacco Corporation waar handelsvennote van sy handelsnaamprodukte aanlyn kan koop.

Maar Fita se voorsitter, Sinenhlanhla Mnguni, sê hulle verwerp die bewerings dat enige van hul lede nie belasting betaal op hul sigaretverkope nie. As TJSA bewyse het daarvoor kan hy dit gerus aan Fita voorsien, het Mnguni gesê.

Gold Leaf het nie op e-posnavrae geantwoord nie. Gold Leaf meld op sy webwerf dat belasting ingesluit is in die pryse wat hy adverteer.

Abramjee kla Gold Leaf doen nie genoeg om te keer dat kinders onder 18 aanlyn sigarette by hom koop nie. Gold Leaf se webwerf vra wel jy moet eers bevestig jy is 18 of ouer voordat jy hul webwerf kan betree.

Die Wet op Tabakbeheer verbied uitdruklik die verkoop van tabakprodukte deur die internet, sê Abramjee.

Mnguni meen dit lyk of TJSA blind is vir enige oortredings van internasionale tabakgroepe en hom net toespits op plaaslike onafhanklike sigaretvervaardigers. Hy het wel bevestig dat Fita oor die volgende paar dae met Gold Leaf sal skakel om seker te maak sy verkoopsmetodes voldoen aan al die landswette.

Mnguni sê internasionale tabakgroepe is vasbeslote om hul markoorheersing te behou en opkomende ondernemings onder druk te hou. Hy glo daar is 'n veldtog deur internasionale tabakgroepe om die aandag af te lei van hul eie oortredings. Hy het verwys na 'n geval van 'n tabakgroep wat glo meer as R2 miljard se agterstallige belasting aan die staat verskuldig is. Volgens Mnguni is daar intussen bewerings dat private speurders betaal word om op Fita-lede te spioeneer, hul kantore onwettig te betree en meeluisterapparate te plant.

TJSA
Yusuf Abramjee, stigter van Tax Justice South Africa. Foto: Lulama Zenzile

Navorsing van die Universiteit van Kaapstad oor sigaretverkope tydens die tabakverbod in die inperking het gewys Gold Leaf, Carnilinx en Best Tobacco Company se markaandeel het in dié tyd met 600% gestyg, want mense het nie bloot ophou rook omdat die regering sigaretverkope verbied het nie, het Abramjee vroeër gesê.

Gold Leaf het verlede jaar ’n skadevergoedingseis van R50 miljoen teen Abramjee ingestel. Gold Leaf het Abramjee daarvan beskuldig dat hy hulle belaster deur die bewerings te herhaal dat Gold Leaf van belastingontduiking verdink word.

Die saak is in Maart verlede jaar met koste van die rol vir dringende aansoeke geskrap.

In Augustus verlede jaar was daar ’n onsuksesvolle sluipmoordpoging op Simon Rudland, mede-eienaar van Gold Leaf, het News24 destyds berig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.