Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aansoek gebring om Denel te likwideer

Moontlik Denel se laaste stryd – om likwidasie af te weer – het begin.

Saab Grintek het in Mei ’n aansoek om Denel se likwidasie in die hooggeregshof in Pretoria gebring omdat R126 miljoen aan hom verskuldig is, berig eNCA.

Denel moes rekenaartoerusting aan Saab Grintek verskaf vir die vervaardiging van Badger-tenks as deel van die Hoefyster-projek. Die Badger sou die Ratel vervang, maar DefenseWeb het in Mei berig dit lyk of dié projek van die baan is.

Denel is nou al jare lank tegnies insolvent en wag op dringende reddingsboeie om onder meer salarisse te betaal. Salarisse word nou al meer as twee jaar lank gereeld laat of net gedeeltelik betaal.

Die laaste reddingsboei aan Denel was R1,8 miljard wat in Augustus 2019 oorbetaal is.

Hofstukke wat eNCA aanhaal, dui daarop dat Saab Grintek nou al baie lank met Denel sukkel. Pogings om ’n skikking te onderhandel, word glo geïgnoreer.

Die DA het onlangs gepleit dat Denel in sakeredding geplaas word. Sakeredding sou krediteure se eise tydelik opskort totdat ’n sakereddingsplan ter tafel gelê is en sou dus ’n likwidasie-aansoek afgeweer het.

Dit is van kardinale belang dat Denel herkapitaliseer word deur onmiddellik hulp van die staatskas te ontvang, of natuurlik dringend ’n private kapitaalinspuiting.
Derek Mans van Solidariteit

Indien die likwidasie-aansoek toegestaan word, word banke en ander instansies wat geld aan Denel geleen het, eerste betaal.

Werknemers sal in so ’n geval, soos ander eisers van die maatskappy, net ’n deel van hul verskuldigde vergoeding kry indien enige geld oorbly nadat bates verkoop is.

Denel se woordvoerder het nie op versoeke vir kommentaar gereageer nie.

Derek Mans, Solidariteit se woordvoerder vir lugvaart en verdediging, het die aansoek beskryf as “hartseer veral vir ons lede en werknemers in die algemeen, maar dit is glad nie ’n skok nie”. 

Solidariteit verteenwoordig baie Denel-werknemers.

Mans sê die aansoek beteken nie likwidasie is onafwendbaar nie. “Die hof moet natuurlik nog ’n bevinding maak, wat ook sakeredding kan insluit, soos met SA Express gebeur het.”

Hoewel SA Express nou wel in likwidasie is, was die hof se eerste voorstel vir sakeredding.

Solidariteit steun nie in dié stadium enige likwidasie-aansoek vir Denel nie.

“Ons is almal bewus van Denel se finansiële status en sal nie verbaas wees as meer en meer sulke aansoeke op die horison is nie. 

“Dit is van kardinale belang dat Denel herkapitaliseer word deur onmiddellik hulp van die staatskas te ontvang, of natuurlik dringend ’n private kapitaalinspuiting.”

Mans sê verskeie voornemende strategiese ekwiteitsvennote het Solidariteit al genader om te probeer help dat Denel se direksie of Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, hul aanbod aanhoor.

Solidariteit het reeds ’n hofbevel bekom om Denel-bates te verkoop ten einde agterstallige salarisse en voordele (soos pensioenfondsgeld) te betaal. Solidariteit het intussen ’n tweede hofaansoek gebring vir die betaling van uitstaande salarisse; die vorige bevel gaan net oor salarisse tot Julie 2020.

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel  |  Wapenvervaardiger  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.