Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Aanval op Transnet is ekonomiese sabotasie’

“Wat anders is dit as ekonomiese sabotasie en verraad teen die land?”

Dit is wat Johan Coetzer, Hillebrand se direkteur vir Suid- en Oos-Afrika, wil weet ná die kuberaanval op Transnet se IT-stelsel wat die land se drie grootste hawens verlam.

Die bedrywighede in Kaapstad se hawe gaan voort, maar bottelnekke begin opbou. Foto: Jaco Marais

Hy is al 25 jaar in die logistieke bedryf en het al op verskeie plekke in Afrika en Oos-Europa gewerk.

“Dit is nie die grootste krisis waarmee ek al te doen gehad het nie, maar wat die impak op ’n ekonomiese skaal op ’n gegewe tyd betref, is dit die grootste krisis.”

Volgens hom is die feit dat die land se drie grootste hawens deur kuberkrakers verlam word gelykstaande aan sabotasie wat veroorsaak dat Suid-Afrika se daaglikse ekonomiese aktiwiteite tot stilstand knars.

“Vir ’n land wat ekonomies baie staatmaak op sy uitvoer en invoer van ander lande, is die situasie waarin ons is kommerwekkend.”

Transnet is uiteraard deel van die daaglikse voorsieningsketting om goedere in en uit die land te vervoer en daarom is die uitkringeffek van wat in die land se hawens gebeur, so enorm, sê hy.

“Die logistieke nagmerrie wat besig is om te ontvou, is ’n droewige prentjie. Vragskepe kom steeds by die hawens aan, laai hul vragte af en dan moet daardie vragte gedokumenteer word, terwyl die stelsels af is en die hawens besig is om onder al die administrasie daaraan verbonde te versmoor.”

Transnet dokumenteer tans vragte met die hand, maar Coetzer sê so ’n stelsel gaan eenvoudig nie voldoende wees om die probleem op te los nie.

“Ons hawens is net nie gerat daarvoor nie.”

Die koste verbonde aan hierdie vertragings en opeenhopings is intussen besig om net toe te neem vir ondernemings wat vraghouers gebruik om in of uit te voer.

“Vragmotors met vraghouers staan buite die hawens en kan nie ingaan om hul vragte af te laai nie. So hoop die koste op en dit gaan uiteindelik enorme bedrae wees. Die gebruik van vraghouers in die hawe waarin goedere wag om afgelaai te word, word ook net meer.”

Hy sê hoewel Hillebrand as ’n vragvervoerder daagliks miljoene rande verloor wanneer die hawens nie soos normaalweg funksioneer nie, is dit min in vergelyking met die miljarde rande wat die land se ekonomie per dag verloor.

“Ons vervoer goedere en as dit nie gebeur nie, verloor ons ook ons bestaansreg.”

Volgens hom is dit ook moeilik om vas te stel wat die regering aan die saak doen, en hy sê dit help ook nie dat die nuus vanaf Transnet skraps is nie.

“Dit is juis nou die tyd dat Transnet hulp uit die private sektor moet vra sodat saamgewerk kan word om die situasie te beredder.”

Meer oor:  Transnet-Kuberaanval  |  Tnpa  |  Kuberaanval  |  Hawens  |  Vragskepe  |  Kuberkrakers  |  Vragvervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.