Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aarto maak amok vir vlooteienaars

Sakeondernemings met verskeie motors kan ’n nare verrassing kry met verkeersboetes waarvan hulle nie weet nie.

Daar is teenstrydige inligting oor waarheen boetes gestuur moet word wat bestuurders van vlootmotors kry. Foto: Jaco Marais

Dít is omdat verskeie verkeersafdelings oor die land heen oënskynlik voortydig begin het om die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) se prosedures toe te pas, sê Cornelia van Niekerk, eienaar van Fines4U, wat maandeliks tot 5 000 verkeersboetes namens ondernemings en individue verwerk.

Aarto is tans net van toepassing in Johannesburg en Pretoria, maar moet landwyd ingestel word.

Die bedeling in elke ander distrik in die land behels dat maatskappye ’n gevolmagtigde aanwys om boetes namens die maatskappy te ontvang, wat dit dan kan hertoewys aan die betrokke bestuurder wat die verkeersoortreding begaan het.

Die gevolmagtigde kan ’n aangewese werknemer wees of ’n diensverskaffer soos Fines4U. Die Strafproseswet bepaal dat die boete aan die adres van dié gevolmagtigde gestuur moet word.

Aarto, aan die ander kant, vereis weer dat verkeersowerhede alle boetes aan die maatskappy se adres wat by eNatis geregistreer is, stuur.

Wat nou toenemend gebeur in plekke so wydverspreid soos Durban, Potchefstroom, Ventersdorp en Polokwane, is dat verkeersowerhede die boetes en dagvaardings op die onderneming se ID en adres beteken, sê Van Niekerk. By ’n groot onderneming kan dit beteken dat ’n vrag boetes en dagvaardings by een tak afgelaai word, wat dit nie aan die regte persoon oorhandig nie.

Van Niekerk sê nadat sy van die probleem bewus geword het, het sy navraag gedoen en afgekom op R80 000 se boetes wat aan een van haar kliënte, ’n groot motorhandelaar, uitgereik is.

Sy en die kliënt was tot in daardie stadium salig onbewus daarvan.

Dr. Blade Nzimande, toe minister van vervoer, het in November verlede jaar op ’n parlementêre vraag van die VF Plus-LP Anton Alberts bevestig dat die praktyk verkeerd is. Volgens hom het staatsaanklaers “die meeste” sulke boetes teruggetrek.

Nzimande het toe onderneem om die kwessie onder die aandag te bring van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), sodat hy verkeersowerhede kan reghelp.

Die RTMC het egter Vrydag aan Rapport gesê verkeersowerhede tree heeltemal korrek en wettig op deur boetes aan die voertuigeienaars uit te reik en nie noodwendig aan hul gevolmagtigdes nie. “Die onus is op die eienaar om die boete laat heruitreik,” sê Simon Zwane, die RTMC se woordvoerder.

Meer oor:  Rtmc  |  Enatis  |  Boetes  |  Aarto
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.