Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Absa kan nou R2 mjd. vir ‘groen’-projekte uitleen

Absa is saam met die Wêreldbank se Internasionale Finansieringskorporasie (IFC) deel van die eerste gesertifiseerde “groenlening” in Afrika.

Finansiering van onder meer groenkrag is vir banke se aandeelhouers ’n pluspunt. Foto: Pixabay

Dit behels dat die IFC ’n lening van tot $150 miljoen (net minder as R2,2 miljard volgens Donderdag se wisselkoers) aan Absa leen om hom te help om groenprojekte in Suid-Afrika te finansier.

Dit is die eerste gesertifiseerde lening in Afrika wat aan die Wêreldbank se beginsels vir groenlenings voldoen. Dit beteken Absa belowe om deursigtig te wees oor al die lenings vir groenprojekte wat hy hiermee finansier.

Dit is daarop gemik om ook ander banke aan te moedig om dieselfde beginsels te volg, volgens ’n verklaring wat die IFC Donderdag uitgereik het.

Die IFC sal tegniese advies met Absa deel om ’n raamwerk te ontwikkel vir effekte en lenings om volhoubare en groenprojekte te finansier.

Die IFC het wel al verlede jaar saam met die Nederlandse ontwikkelingsfinansieringskorporasie ’n lening van $225 miljoen (sowat R3,23 miljard) aan FirstRand toegestaan om klein groenprojekte in Suid-Afrika te finansier, het Afrik21 in September verlede jaar berig.

Absa is reeds die grootste verskaffer van finansiering vir die regering se groenkragprogram, sê Jason Quinn, tussentydse uitvoerende hoof van Absa. Die ooreenkoms met die IFC versterk dié poging.

Die IFC se lening aan Absa is deel van ’n inisiatief wat die korporasie al in 2020 begin het om banke in Suid-Afrika, Egipte, Mexiko en die Filippyne te help om projekte in die stryd teen die klimaatkrisis te finansier.

Vorige beleggings

Volgens die IFC is dit reeds sy vierde belegging in groenfinansiering in Suid-Afrika.

Die Wêreldbank-filiaal het voorheen al regstreeks in twee sonkragprojekte van die Spaanse groep Abengoa in die Noord-Kaap belê.

Hy het ook al in 2010 ’n omstrede lening van $3,75 miljard (sowat R53,8 miljard) aan Eskom toegestaan, waarvan die meeste geld bestee is aan die bou van die Medupi-steenkoolkragstasie, hoewel kritici daarop wys dat die lening aanvanklik bemark is as dat dit tot skoner kragopwekking in Suid-Afrika sou bydra.

Skynbaar is ’n klein bedrag van die lening wel aan energiedoeltreffendheidsprojekte by Eskom bestee.

Aktiviste se druk op banke

Die jongste inisiatief saam met die IFC sal Absa na verwagting help om die druk te verlig van omgewingsbewuste beleggersaktiviste wat toenemend van banke en ander maatskappye eis om meer aan die klimaatkrisis te doen.

Standard Bank is byvoorbeeld deur ’n groep fondsbestuurders gevra om op sy jaarvergadering op 27 Mei ’n resolusie oor klimaatteikens in te sluit, het Bloomberg Donderdag berig.

Abax Investments, Aeon Investment Management en Visio Fund Management vra dat die bank teikens stel om sy blootstelling aan fossielbrandstof te verminder.

Die fondsbestuurders word gesteun deur Just Share, ’n groep aandeelhoueraktiviste wat omgewingsvriendelike beleggings wil bevorder.

Standard Bank het aan Bloomberg bevestig dat hy bewus is van die versoek en dit sal bestudeer.

k
Meer oor:  Absa  |  Wêreldbank  |  Firstrand  |  Eskom  |  Bankbedryf  |  Banke  |  Groenkrag  |  Lenings  |  Krediet  |  Hernubare Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.