Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Absa-kitsbank praat Mandaryns, maar nie Afrikaans

Mense wat die afgelope week by Absa se kitsbanke geld wou trek, het ’n unieke penarie gehad: Hoe gemaak as die ou Volkskas-teller jou in Mandaryns, Frans, Portugees, Spaans of Duits kan help, maar nie meer Afrikaans nie?

Die Afrikaanse opsie vir kliënte van ander banke wat ABSA OTM-masjiene gebruik het onlangs vir ’n wyle verdwyn. Dié tegniese probleem is intussen reggestel. Foto: Deon Raath

Absa, wat verlede maand ’n nuwe bloedrooi logo bekend gestel het om sy nuutgevonde wortels in Afrika te vier, het met ewe rooi gesigte vure doodgeslaan.

Woedende Afrikaanssprekende kliënte het verontwaardig op sosiale media gevra of Absa dan meer belangstel in Chinese sake as kinders van Afrika.

Tshiwela Mhlantla, hoof van Absa-kleinhandel, het aan Rapport gesê dit was ’n stelselfout wat hulle nou reggestel het.

“Party van ons 9 180 kitsbanke in ons landwye netwerk is aangetas. Dié probleem het veroorsaak dat mense wat met die kaarte van ander banke op ons masjiene transaksies gedoen het, nie ’n Afrikaanse opsie beskikbaar gehad het nie.”

Teen Vrydag was Afrikaans weer outomaties beskikbaar wanneer ’n mens ’n Suid-Afrikaanse bankkaart gebruik.

Mhlantla sê Absa se eie kliënte was nie geraak nie omdat die kitsbank outomaties hul kliënte se voorkeurtaal gebruik. “Ons wil van die geleentheid gebruik maak om ons onderneming om ons kliënte in die taal van hul keuse te help, te bevestig,” sê sy.

“Ons het ’n beleid van veeltaligheid en bied aan ons kliënte by ons takke en ons inbelsentrums die geleentheid om in Engels, Afrikaans, Sotho, Xhosa en Zoeloe gehelp te word.”

Mhlantla sê hulle bied ses internasionale tale vir besoekers en die eerste hiervan is voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 geïmplementeer. Die kitsbank registreer dat dit ’n oorsese kaart is en bied dan verskillende taalopsies.

Mhlantla sê die groot aantal Chinese kliënte wat Absa se dienste gebruik, het hulle in 2016 genoop om ’n ooreenkoms met UnionPay International (UPI), ’n filiaal van China UnionPay, aan te gaan.

“Daar is ’n geskatte 350 000 Chinese mense wat permanent in Suid-Afrika bly en sowat 10 000 wat ons land elke maand besoek. Dit maak van Suid-Afrika een van China se heel gewildste toeristebestemmings.

“Ons ooreenkoms is dat UPI-kaarthouers wat in Suid-Afrika bly of die land besoek en hul kaarte by ’n Absa-kitsbank gebruik, in Mandaryns bedien word.”

Meer oor:  Absa  |  Tshiwela Mhlantla  |  Bankbedryf  |  Banke  |  Kitsbanke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.