Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Absa se logo binnekort nie meer rooi
Absa se hoofkantoor in Johannesburg.

Absa se kenmerkende rooi gaan eersdaags ’n diep oranje word.

As deel van die bank se “egskeiding” van die Barclays-groep gaan die bank se logo eersdaags verander word. Hoewel Netwerk24 nie die nuwe logo onder oë gehad het nie, beskryf ’n ingeligte dit as ’n diep oranje “soos dié van die motorfietsgroep KTM”.

Die bank se slagspreuk gaan ook verander word.

Dis alles deel van die nuwe korporatiewe baadjie wat die bank aantrek noudat die Barclays Africa Group die Absa Group word.

Die verandering kom nadat die Britse moedermaatskappy Barclays sy belang van 62,3% in Barclays Africa tot 23,3% verminder het.

Hy het dit gedoen omdat talle lande ná die internasionale finansiële krisis in 2008 wette ingestel het wat dit minder aantreklik maak vir banke om belange in buitelandse banke te besit.

Barclays Africa het reeds in Mei die groen lig van aandeelhouers gekry om sy naam amptelik na Absa te verander.

Die motorfietsvervaardiger KTM se oranje logo.

’n Woordvoerder van Absa het geen spesifieke navrae oor die kleur- en logoverandering ontken of erken nie.

Netwerk24 is egter verwys na ’n skakel wat reeds op 1 Maart op sy webwerf gepubliseer is met die instruksie om spesifiek na die volgende paragraaf te kyk:

“Die verkoop van Barclays se belang het ons die geleentheid gebied om ’n handelsmerk te skep wat ons identiteit in Afrika weerspieël en ons bedrywighede in tien lande onder een naam verenig,” sê Maria Ramos, uitvoerende hoof van die groep, in dié verklaring.

“Ons sal Absa wees, nie soos u dit ken nie, maar herlaai, heraangebied en met ’n identiteit wat geskik is vir die nuwe en toekomsgerigte besigheid wat ons skep.”

Absa sê Suid-Afrikaners gaan tot 11 Julie moet wag om te sien hoe hy in die toekoms gaan lyk.

Hy gaan glo dan eers meer besonderhede verskaf.

Die woordvoerder wou glad nie sê hoe lank dit gaan duur om die bank se korporatiewe beeld te verander, hoe dit gedoen gaan word óf hoeveel dit gaan kos nie.

Afleggings

Die veranderinge by Absa kom egter teen ’n prys.

Die woordvoerder van Absa wou nie ons inligting bevestig dat tot 2 000 van sy sowat 45 000 werkers binnekort afgelê gaan word nie.

’n Woordvoerder het wel bevestig dat daar ’n art. 189-proses gevolg word soos wat deur die Arbeidswet vereis word.

“Ons het in Maart ’n korporatiewe strategie bekend gestel oor hoe ons inkomste uit bankdienste in die res van Afrika van 6% tot 12% wil verdubbel.

“As deel van die proses het ons in April ’n nuwe bedryfsmodel van stapel gestuur.

“Ons het reeds hieraan begin werk, met verwysing na ons kleinhandel en besigheidsbankdienste.

“Omdat hierdie proses volgens ’n art. 189-proses bestuur word soos deur die Arbeidswet vereis, kan ons nie tans verdere inligting verskaf totdat die proses afgehandel is nie.”

Volgens ’n ingeligte is die eerste afleggings op uitvoerende bestuursvlak reeds gedoen.

Meer oor:  Absa  |  Barclays  |  Maria Ramos  |  Banke  |  Afleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.