Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Absa se nuwe baas is toe hoë van Reserwebank

Daniel Mminele is as Absa se nuwe uitvoerende hoof aangestel, ’n pos wat hy vanaf 1 Januarie sal beklee.

Daniel MmineleFoto: Argief

Financial Mail berig Donderdag dat Absa se direksie reeds die aanstelling goedgekeur het.

“Drie individue het aan Financial Mail bevestig dat Mminele se aanstelling goedgekeur is deur Absa se direksie sowel as die banktoesigafdeling van die Reserwebank,” het die tydskrif berig.

Netwerk24 het reeds in Junie vanjaar berig dat daar ’n groot moontlikheid is dat Mminele dié skuif kan maak.

LEES OOK: Gaan Reserwebank se adjunk dalk Absa toe?

Nie die Reserwebank óf Absa wou tóé kommentaar lewer nie. Absa het gesê hy sou in Augustus tydens die bekendmaking van sy halfjaarresultate sê wie sy nuwe uitvoerende hoof is.

Hy het dit egter nie gedoen nie.

Mminele sal die bank se eerste swart uitvoerende hoof wees.

Maria Ramos, Absa se voormalige uitvoerende hoof, het in Februarie 2019 uitgetree toe sy 60 geword het.

René van Wyk, ’n voormalige werknemer van die Reserwebank, neem sedertdien in die pos waar.

Mminele het in Junie by die Reserwebank bedank.

Ingevolge sy dienskontrak moes hy aan ’n afkoeltydperk van ses maande voldoen waartydens hy nie elders mag werk sonder die uitdruklike goedkeuring van die Reserwebank se direksie nie.

Van Wyk se aanstelling is net tot einde 2019, wat presies ooreenstem met wanneer Mminele weer ’n pos mag aanvaar.

Mminele is in 1965 in Palaborwa, Limpopo, gebore.

Hy het in Duitsland skoolgegaan en het ’n graad van die Guildhall-universiteit in Londen, Brittanje.

Nadat hy eers in die banksektor in Brittanje en Duitsland gewerk het, het hy in 1995 na Suid-Afrika teruggekeer om by Commerzbank in Johannesburg te werk.

Hy het ook vir ’n kort rukkie by African Merchant Bank gewerk voordat hy in September 1999 by die Reserwebank aangestel is.

Hy het in die bank se afdeling vir finansiële markte en internasionale bankdienste gedien voordat hy aangestel is as adjunkpresident verantwoordelik vir finansiële markte en internasionale ekonomiese betrekkinge.

Meer oor:  Absa  |  Maria Ramos  |  Daniel Mminele  |  Reserwebank  |  Banke  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.