Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Absa sluit 24 rekeninge van Iqbal Survé se Ayo

Altesame 24 van die Sekunjalo-groep van dr. Iqbal Survé se filiale se bankrekeninge by Absa is gesluit en leningsooreenkomste by die bank is beëindig.

A new corporate logo sits on the branded hi-vis ja
Absa se nuwe logo wat in 2018 bekend gestel is. Foto: Getty Images

Dit sluit in die bankrekening van die genoteerde Ayo waardeur na bewering talle “onreëlmatige en onwettige transaksies” plaasgevind het, soos die R4,3 miljard vir die omstrede transaksie met die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) van Desember 2017, voer Absa in hofstukke aan.

Die hofstukke is aangeheg aan ’n berig van Daily Maverick oor Absa wat sy verhouding met maatskappye beëindig het wat Sekunjalo Investment Holdings direk en indirek besit.

Survé se familietrust is die beherende aandeelhouer in Sekunjalo Investment Holdings.

Sekunjalo besit op sy beurt die meerderheidsbelang in die genoteerde African Equity Empowerment Investments (AEEI), wat op sy beurt ’n meerderheidsbelang hou van die ander maatskappye met wie Absa sy verhouding beëindig het, insluitend Premier Fishing and Brands.

Die hofstukke handel oor ’n dringende aansoek om ’n interdik te kry wat Premier Fishing and Brands en sy filiale in Oktober in die hooggeregshof in Kaapstad gebring het om te keer dat sy bankdienste beëindig word.

Absa het Premier in Augustus 2020 verwittig van sy besluit om sy bankverhouding met al die maatskappye binne die Sekunjalo-groep te beëindig. (Dit sluit nie Independent Media, waarvan Survé die voorsitter is, in nie.)

Redes vir besluit

In sy antwoordende verklaring sit Absa die redes vir sy besluit uiteen.

Volgens Marthinus Janse van Rensburg, regsadviseur van Absa, is die bank verplig om slegte publisiteit oor sy kliënte te monitor onder sy verpligtinge ten opsigte van risikobestuur.

Volgens hom is die besluit geneem omdat die verhouding met die maatskappye “ondraaglike reputasie-, kommersiële en regsrisiko’s” vir Absa inhou.

Absa het sedert die negatiewe publikasie begin het oor die omstrede transaksie tussen die OBK en Ayo van einde 2017, begin om sy kliënte wat in berigte genoem is, te monitor.

Dit sluit in dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, AEEI, Ayo, verskeie direkteure van Ayo, Premier en sy filiale Premier Fishing, Premfresh, Marine Growers en Talhado.

Die Sekunjalo-groep en Survé is minstens die afgelope twee jaar die onderwerp van ernstige aantygings oor onaanvaarbare en onwettige optrede.
Absa

“Die Sekunjalo-groep en Survé is minstens die afgelope twee jaar die onderwerp van ernstige aantygings oor onaanvaarbare en onwettige optrede.

“Die aantygings handel oor die verhouding en transaksies tussen die maatskappye in die Sekunjalo-groep, hoofsaaklik Ayo Technology Solutions, en die OBK, sedert Desember 2017 tot nou,” sê hy.

“Die aantygings was ook die onderwerp van die kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van regter Lex Mpati.

“Die Mpati-kommissie het bevind dat die bewerings gegrond is en diep kommerwekkend is. Die kommissie het verdere ondersoeke en stappe teen die OBK, Sekunjalo, AEEI en verskeie van sy filiale en verskeie geïmpliseerde individue aanbeveel.”

Janse van Rensburg sê die handels- en beleggingsbankafdeling van die bank het einde Julie 2019 die direkteure van AEEI in kennis gestel dat bankdienste aan hom en sy filiale heroorweeg word.

Die direkteure is verwittig ’n finale besluit sal geneem word wanneer die Mpati-kommissie van ondersoek sy finale verslag afgehandel het.

Dr. Iqbal Survé, voorsitter van Independent Media.

Die Mpati-kommissie se finale verslag is in Maart 2020 uitgereik.

Janse van Rensburg sê die besluit om die maatskappye se bankdienste te beëindig, is geneem op grond van die wetgewing waaraan Absa moet voldoen, sy eie risikobestuur, die voortgesette negatiewe publisiteit oor die Sekunjalo-groep, en die “uiters ernstige aantygings en aanbevelinge in die Mpati-verslag teen die hele Sekunjalo-groep en persoonlik teen Survé en Matjila.

“Absa was nie die enigste maatskappy wat die besluit geneem het nie. Ander bekende diensverskaffers met ’n goeie reputasie, soos die boekhoufirma BDO, regsfirma Webber Wentzel en die korporatiewe borg PSG Capital het vroeër hul verhouding met die Sekunjalo-groep in die openbaar beëindig.” 

Hy verwys ook na die straf en boete wat Ayo by die JSE gekry het weens foute in die maatskappy se 2018-jaarstate.

Absa voer aan hy is wettig geregtig daarop om die verhouding met hulle te beëindig kragtens die kontrakte met die maatskappye.

Bo en behalwe sy eie beleid oor risikobestuur is hy ingevolge internasionale en plaaslike bankwetgewing verplig om dit te doen.

  • Die Bankwet verplig elke bank om ’n omvattende risikobestuurproses te hê om te keer dat die bank vir geldwassery of vir ander onwettighede gebruik word. Die Reserwebank kan ’n banklisensie herroep as nie aan die regulasie voldoen word nie.
  • Die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica) bepaal ook spesifieke maatreëls moet getref word om handelsmisdade te bekamp.
  • Absa moet ook internasionale wetgewing soos Brittanje se wet op omkopery en Amerika se wet op buitelandse korrupsie aktiwiteite ag slaan.

Premier Fishing en filiale

Rushaan Isaacs, uitvoerende hoof van Premier Fishing and Brands, sê in die hofstukke Absa het 15 jaar bankdienste aan die groep verskaf.

Premier Fishing het ’n leningsgerief van R35 miljoen, wentelkrediet van R2 miljoen, krediet vir batefinansiering van R5,8 miljoen by Absa gehad.

’n Filiaal van die maatskappy Talhado het ook ’n R45 miljoen-leningsgerief by Absa.

Isaacs sê omdat die visbedryf seisoenaal is, het albei maatskappye tydens die buiteseisoen dié lenings nodig vir bedryfskapitaal.

“Daarsonder sal albei maatskappye in ’n ernstige finansiële verknorsing geplaas word, wat uiteindelik personeel en verskaffers sal raak.”

Janse van Rensburg sê Absa is in die meeste gevalle geregtig daarop om die kontrakte onmiddellik te kanselleer, maar die bank het hulle drie maande kennis gegee en beskou dit as ’n redelike tydperk.

Absa het ook aangebied om hulle ses maande kennis te gee op voorwaarde dat hul paaie op 26 Februarie skei.

“Die applikante het die aanbod egter van die hand gewys.”

Hy sê daarom kan hulle nie kla dit is ’n onredelike tyd nie. Hy sê hulle kan ook nie aanvoer hulle is onkant betrap nie omdat die direkteure in die groep lankal daarvan ingelig is.

Janse van Rensburg sê ook daar is geen bewyse van Premier dat hy bankdienste probeer kry het van die minstens 70 ander banke wat in die land bedrywig is nie.

Meer oor:  Independent Media  |  Gepf  |  Aeei  |  Sekunjalo  |  Obk  |  Ayo Technology Solutions  |  Bankbedryf  |  Bedrog  |  Geldwassery  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.